My pa huur ‘n kamer op ‘n plot aan die buitewyke van Grahamstad. ‘n Paar pit bull terriers is vasgemaak aan kettings, op verskillende dele van die eiendom. Hy vertel my van die een hond wat moeilik aanpas by sy nuwe posisie – voorheen was hy naby die huis vasgemaak, maar nou is hy uitgeskuif tot op die perifirie van die erf.
Met tye is die hond besonder bang, sê my pa. Wanneer die dier wakker word, byvoorbeeld, is hy erg onrustig. Hy blaf dan onophoudelik totdat hy hees is en net ‘n roggelende, histeriese hoes by sy keel uikom.
Dit is asof die hond ‘n ontsettende leegheid aanvoel, sê my pa. Hy voel hy behoort nêrens meer nie. As iemand dan uiteindelik woedend en al skreeuend uitstorm, spring die dier op en af en swaai sy stert. Dit gee hom ‘n plek in die groep. Deesdae sal my pa so nou en dan by die venster staan en sy naam uitroep. Dit lyk asof dit hom kalmeer, en heel tevrede sal hy dan in sy hok ingaan waar hy vir ‘n wyle wegkruip.
*
‘n Afskeidspartytjie is gereël vir een van die lede van die geselskap waarvoor ek werk. Dit word in die huis van een van die ander lede, wat in die township bly, gehou.
Die huis is klein. Diep-rooi gordyne steek helder af teen die verweerde pienk muur. In die leefarea pas drie rusbanke net-net in. Agter die banke teen die muur is vuil merke, gemaak deur hande en voete. ‘n Uitvoerige mediastand staan teen die vierde muur. Dit oordonder die kamer, asook die klein swart-en-wit televisie daarbinne. Buite, anderkant die oop deur, is die wye sypaadjie toe onder die kikoejoe-gras; daar is donkies, bokke, kinders en rommel, en as mens verder kyk, sien jy bruin heuwels en ‘n wolklose lug. Die lug is gevul met die reuk van houtvure.
Musiek blêr uit die luidsprekers op die mediastand. Die gesprekke is luidrugtig; die gaste moet bulder om bo die harde dromritme gehoor te word. Ek probeer praat, ‘n gesprek aan die gang kry, maar besef dan dat my stem nie sterk genoeg is nie. Die dun, rankagtige spiere in my nek trek styf. My reaksies is te sorgvuldig, my stem te hoog. Halfpad deur ‘n sin begin ek te hoes, my oë word waterig en my gesig rooi.
‘Het jy griep? ‘ vra Thandeka, die gasvrou, besorgd. Sy het ‘n heldergeel, sintetiese hemp aan wat skel teen haar diepbruin vel afsteek.
‘Ja, ‘ jok ek, verleë.
Ek probeer haar weer antwoord. Ek sluk, maar na drie woorde oorval ‘n hoesbui my.
Thandeka neem die gesprek oor. Sy praat met ‘n onverskrokke intensiteit. Haar oë hou myne gevange. Haar gebare is groots en tragies. Sy stamp teen die vloer, gryp haar kop in haar hande vas, en pluk aan die lang geel haarstringe. ‘n Siddering trek deur haar formidabele bors. Haar gesig word verwring deur emosie. Die musiek is te hard en ek hoor nie alles wat sy sê nie, maar tydens ‘n pouse in die musiek word haar dringende relaas hoorbaar.
‘Hulle het my teen jou laat draai,’ se sy ‘Ek het myself verloor. Ek het vir Thandeka verloor.’ Sy slaan teen haar bors. ‘Maar van nou af, ek, ek besluit.’ Die geel van haar hemp en die wit gedeeltes van haar oë verblind my. Sy verwys na ‘n akteur wat my nie vertrou het nie, en die res van die groep teen my laat draai het. Ek weet sy sal nie die betrokke persoon se naam noem nie. Die Xhosa-kultuur ken die betekenis van diskresie, en al val woorde hard en vinnig, word dit steeds met uiterse behoedsaamheid uitgespreek.
‘Ek was bleddie fokken opgefok!’
Die woorde sit effens vreemd op haar tong, ongeoefend, en kom vreemd kinderlik oor. Ek wil lag, maar weerhou myself. Haar gesig is vertrek in woede en pyn. ‘Maar nou is dit verby. Niks meer nie. Ek’s terug! Ek’s hier!’ Haar stem word jubelend en ‘n wye glimlag versier haar gesig. Ek kan die lyn sien waar haar tandvleis en die sintetiese pienk tandvleis van haar kunstande voor in haar mond ontmoet. Sy strek haar arm uit bo-oor haar kop – ‘n triomfantlike beweging. ‘Nou sal jy vir Thandeka sien! Ek sê jou! Jy sal haar sien! Thandeka sal daar wees!’ Dan lag sy: ‘n lag wat alles omvou, die klank neerklaterend.
Sy trek my aan my arm die kombuis binne, sy wil opskep. Die vroue wat om die klein kombuistafel sit, almal lede van die geselskap, is aan ‘t baklei. Een van die mans probeer die vrede bewaar, maar hy kan kwalik gehoor word bo die uitroepe, die verontwaardigde geklap van hande en die afkeurende uitlatings, gepaardgaande met arms wat hemelwaarts gewend word. Die gasvrou duik blindelings in die argument in, al is dit onduidelik waaroor dit nou eintlik gaan.
‘Ek praat nog!’ skree ‘n klein vroutjie. ‘Ek het nog nie klaar gepraat nie! Ek sal jou sê wanneer ek klaar gepraat is! Ek sal jou sê!’
Een van die ander vroue probeer iets sê, maar die vroutjie skree, ‘Ek sal jou sê wanneer ek gesê het wat ek probeer sê!’ Haar bewegings, wat al meer soos die van ‘n bokser word, bonsend heen en weer op haar voete, benadruk haar toenemende woordevloed. ‘Hoe kan jy sê jy was nie genooi nie? Het ek jou dan nie gesê daar gaan ‘n party wees nie? En het ek nie gesê dis vandag nie? En het ek nie vir jou die geld gevra vir die party wat vandag is nie? En het jy nie die geld vir die party wat vandag gebeur, vir my gegee, en uitgehaal uit jou eie sak nie? Of het niks van dit gebeur nie? Lieg ek?’
‘Jy lieg,’ sê die ander vrou, skynbaar vreesloos.
‘Sê jy ek lieg?’
‘Ek sê jy lieg.’
‘En ek sê: hoe-durf-jy-sê-ek lieg?’ Dit klink soos ‘n oorlogskreet, en word oor en oor met toenemende intensiteit uitgespreek.
Ek glimlag hoflik, met die hoop dat dit simpatiek sowel as neutraal voorkom.
Thandeka gee vir my ‘n massiewe bord kos aan: drie tjops (hoofsaaklik bestaande uit vet), ‘n hoop pastaslaai, ‘n broodrolletjie en ‘n helderrooi stuk boerewors.
Huiwerig probeer ek walgooi ‘O, ek’s eintlik nie – ’
Soos een man draai al vyf vroue na my. ‘Eet!’ skree hulle.
‘Ja, maar – ’
‘Hierdie is nie die suburbs nie!’ skree die klein ene. ‘Jy doen dit nie hier nie! Jy doen dit nie!’
Ek word na die slaapkamer langsaan gelei, afgeskort deur ‘n stuk materiaal wat aan die deurkosyn hang. Die kamer is suiwer blou geverf. Dis koel en donker. Die enigste ander wit gas sit alreeds op die bed, reeds aan die eet. In die ander vertrek duur die argument voort.
‘Sê jy ek is ‘n leuenaar? Is dit wat jy sê?’
Skielik kan Thandeka se stem duidelik bo die ander s’n gehoor word. ‘Wie het die musiek afgesit?’ Ek hoor hoe sy deur die sitkamer, waar ‘n doodse stilte heers, storm.
‘Dit was Lenny,’ roep een van die mans, om die situasie vinnig te beredder.
Nog ‘n oomblik van stilte volg, die spanning tasbaar, selfs vanuit die ander vertrek. Dan antwoord sy: ‘Lenny kan doen net wat hy wil vanaand, want dis sy afskeidsparty.’ En dan beweeg sy terug kombuis toe. Verligte lagbuie volg, nuwe musiek word opgesit, en die argument in die kombuis word hervat. ‘n Sagter stem is dan hoorbaar, die man probeer vrede bewerkstellig. ‘Hayi man, Thabo, ons baklei nie!’ maak een van die vroue hom stil. Sy reaksie is onhoorbaar; gesmoor deur die eenparige opdrag dat hy moet gaan. Vir ‘n oomblik is dit stil, terwyl die man waarskynlik uitstap, en dan gaan die vroue, nou tevrede, voort.
*
Buite my pa se deur is ‘n ander hond vasgemaak. Haar oë is klein en ver van mekaar. My pa merk op dat sy mooi is. Sy spring hoog in die lug op, twee keer haar eie hoogte. Haar ketting plof neer in die sand. ‘Sy’s baie elegant,’ sê hy.
My pa se aandete is ‘n maaltyd van witbrood en vleis. Hy eet wat die familie eet, maar verkies om in sy eie kamer te eet. Hy byt net ‘n stukkie van die wors af. Wanneer dit donker is, neem hy die res van die kos vir die hond. In die oggend ruik haar asem soms na knoffel.
Hy is besig om te spaar vir ‘n harnas vir haar, sê hy, sodat haar vel gesond kan word. Hy wys my waar die ketting dit stukkend geskaaf het. Haar oë trek op skrefies wanneer hy haar oor haar kop en rug streel. Sy arms is lank en sy hande delikaat: die naels lyk soos klein skulpies. Sy gaan lê in die stof, bied haar maag vir hom aan.
*
Die naweke wat ek as kind by my pa deurgebring het, het ons dikwels die township besoek – Guguletu, geleë aan die buitewyke van Kaapstad. Ek onthou die reuk van vleis, en rook, wat dik in die blou skemer hang. Ek onthou ek was deel van ‘n bewegende massa, en dat ek my pa gevra het om my huistoe te neem, terug na my ma se stil huis.
Maandagoggende sou ons in die skoolsaal sit, en die skoolhoof sou praat oor die swart gevaar. Later in die dag sou ons bomdrille oefen, al kruipende onder ons banke.
My pa was mal oor die township. Vir hom was dit ‘n veel lewendiger sosiale omgewing as die voorstedelike lewe. Soms het ek gedink hy sou eerder ‘n swart dogter wou hê.
*
Ons repeteer die eerste helfte van die jaar by die Universiteit se dramadepartement. Die skoonmaakster heet Gladys.
Sy berispe my by verskeie geleenthede. By een so geleentheid probeer ek die badkamer binnegaan voor ons vertoning begin, maar sy jaag my uit.
‘Die vertoning gaan nou-nou begin,’ pleit ek.
‘Die vloer is nat,’ sê sy, wakend soos ‘n brandwag voor ‘n deur.
‘Ek sal versigtig trap. Asseblief, ek’s desperaat.’
Sy reageer nie, hou net aan staar in die niet, hand rustend op die die mop. Haar wange is groot en glad, haar oë ontneem van enige uitdrukking.
‘n Ander keer vertel sy my ek het tee gemors op die vloer van die repetisielokaal, en dat ek dit moet opvee. En by ‘n ander geleentheid kla sy dat ek krummels gelos het op die toonbank in die Groen Kamer. Ek sê vir haar dat ek altyd sorgvuldig agter my skoonmaak, omdat ek weet hoe deeglik sy is. ‘Daar was krummels hier,’ sê sy, en wys na die presiese plek. Ek vra verskoning, en verseker haar dat dit nie weer sal gebeur nie.
Op ‘n dag is ons werk besonder uitmergelend: ons verfilm ‘n produksie in die teater. Ek hoor hoe Gladys buite in die gang met die opsiener praat. Haar stem is luid en uitgelate. Ek glip by die deur van die teater uit, hou my vinger voor my lippe en sis ‘shhh, ‘ terwyl ek haar reguit in die oë kyk.
Sy trek haar liggaam stokstyf. ‘Moenie met my praat asof ek ‘n hoender is nie,’ sê sy.
‘Ons is besig om te verfilm in die teater. Mense werk hier,’ sê ek. My oë hou haar oë vas.
‘Ek is nie ‘n hoender nie, ‘ sê sy. Sy neem ‘n tree nader aan my. Ons is dieselfde lengte, maar sy is veel groter as ek.
‘Ons werk hier, Gladys. Hierdie plek behoort nie aan jou nie.’
‘Ek is nie ‘n hoender nie,’ sê sy. ‘Ek is nie ‘n hoender nie.’
Ek reageer nie.
‘Ek gaan dit nie net hier laat nie. Jy ken my nie,’ sê sy, en draai om.
En ek dink by myself, sy ken my ook nie.
*
Ek skryf ‘n brief waarin ek oor Gladys kla. Ek formuleer dit met omsigtigheid, sodat ek redelik dog respekvol oorkom. Ten spyte van my taktvolle formulering, weet ek egter dat Gladys belaglik gaan voorkom. En selfs al weet ek sy sal nie afgedank of aangespreek word nie, weet ek ook sy is op ‘n sekere vlak totaal weerloos teen my woorde.
*
Ek onthou eenkeer toe Gladys gestaak het. Een van die wasbakke in die badkamer was vol kots.
*
Dis die oorgangstyewat moeilik is, sê my pa. Wanneer hy saam met arm mense is, is armoede nie ‘n probleem nie. Hy is tevrede met net een stel klere. Dit is wanneer hy tussen mense met geld is dat dit hom miskien sal begin pla.
*
My pa was in sy middel-dertigs op die drumpel van ‘n belowende loopbaan. Hy het destyds reeds grensverskuiwende navorsingswerk gedoen. En toe, ses maande nadat ‘n aftakelende depressie hom gepak het, het hy bedank uit die enigste werk, in hierdie land, wat sy vermoëns uitstekend gepas het. Agterna het hy besef dat hulle hom waarskynlik nooit sou afdank nie, maar terwyl hy daar was, was hy bang hulle vang hom uit. In die daaropvolgende jare het die een depressiewe episode na die ander hom verhoed om sy loopbaan voort te sit.
Ons praat selde oor hierdie gebeure. Net eenkeer – ek onthou ons was buite sy kamer en die laaste sonstrale het die heuwels blou laat glim – het hy my vertel dat iets omtrent sy lewe op daardie oomblik eg gevoel het. Amper asof dit nader aan ‘n dierlike bestaan was, of iets soos dit. So asof dit eintlik was hoe die lewe is, of hoe dit moet wees.
*
Wanneer my pa wakker word, gaan hy buitentoe en gee die hoenders kos. Hy kyk hoe hulle die stukke brood opraap en daarmee weghol, dun bene agterna. Hy geniet die sagte, tevrede, sangerige begeleiding afgewissel deur ‘n skielike komiese gekrys van angs. Dit is ‘n goeie manier om wakker te word, sê hy.
*
Ek neem die geselskap na die plot waar my pa woon – ons moet navorsing doen oor honde vir die stuk wat ons gaan opvoer. Ons staan langs die hok van een van die grootste honde, voorheen ‘n veghond. Sy ore is aan flarde, sy gesig geskend en die een kant van sy mond hang verlam waar dit verskeur was. Die sinkplaatbasis van die hok stamp teen die hoenderdraadraam wanneer hy daarteen spring, al stertswaaiend.
Ek vorder nie met hierdie stuk nie. Vooruitgang bly my al weke lank ontwyk. Net sodra ek met ‘n nuwe idee vorendag kom, word dit duidelik dat dit ook nie gaan werk nie. Soms voel dit vir my asof ek vervloek is.
Buiten die honde, is daar ook hoenders, ‘n boerbok en ‘n skaap op die plot. Boutoerusting, ou stellasies en kruiwaens, hope ou bakstene en sementboublokke lê versprei oor die erf, met ‘n groot palmboom en ‘n watertenk op ‘n lang ystertoring wat bo alles uittroon. Die bok het die kanferfoelieheining tot op kophoogte gestroop. Wasgoed hang aan die wasgoedlyn, en kleiner items hang verspreid aan bossies. ‘n Arendsnes rus in ‘n klomp dooie dennebome naby die huis. In die verte is doringbome en aalwyne, die eerste heuwels kyk uit op die golwende kusvlaktes, wat strek tot by die heuwels wat Port Elizabeth omring.
Die boerbok staan langs my pa. Wanneer hy sy horings aanraak, laat sak die dier sy ken en druk die bo-kant van sy kop teen my pa se binnebeen, en stamp stamp hom liggies met die kop. Hy vryf die dier se rug.
Na die tyd neem my pa ons na sy kamer, en bring vir ons tee. Hy kan ons geen koekies aanbied nie, sê hy verskonend. Hy haal kussings van die bed af en sit dit op die vloer sodat daar genoeg sitplek is. Die akteurs is stil, hul oë wydgesper. Hulle verwag dat witmense se huise anders moet lyk – huise met swembaddens, goedversorgde tuine en bediendes.
*
Enkele weke na die aanvang van die jaar skuif ons repetisies na ‘n kerksaal. Terwyl ons werk, maak ‘n groot vrou die plek skoon. Ek en sy praat nooit met mekaar nie.
Sy loop van die een kant van die saal na die ander, deur die area waar die akteurs repeteer. Tussen oneerbiedige dialoog, klug-komedie, dramatiese inkantasies en keelgeluide heen, haar gewig in konstante beweging, skuiwend van een slepende voet na die ander. Sy staan nooit stil nie. Ek sien haar slegs uit die hoek van my oog.
Op ‘n dag is ek in die kombuis besig om my middagete in die mikrogolfoond op te warm. My gedagtes is elders, die ontplooiende dramatiese aksie aan ‘t bedink. Die vrou is ook daar. Skielik voel dit asof my oë na die een kant van haar kop getrek word. Ek besef die vorm van haar profiel het verander. Daar is ‘n swelsel aan die een kant van haar gesig, en dit laat haar gelaatstrekke heeltemal anders lyk. Sy het dit probeer verbloem met ‘n onderlaag, maar dié is heelwat ligter as haar vel, en dit beklemtoon die swelsel. Haar oë is neergeslaan. Sy draai haar kop weg, so asof sy voel ek staar na haar.
Die volgende oggend groet ek haar.
‘n Week later, toe die swelsel al gesak het, is ons altwee weer tydens middagete in die kombuis. Ek warm die vorige aand se oorskietkos op. Ek haal die deksel van die houer af, stel die tyd vir ‘n minuut en ‘n half, en staan en wag. Ek is bewus van haar teenwoordigheid, waar sy, al peinsend, besig is om ‘n gedeelte van die toonbank wat alreeds skoon is, te skrop.
Skielik, steeds starend na die toonbank, vra sy: ‘ Het jy kerrie by die groete gesit?’
Vir ‘n oomblik is ek sprakeloos. Dan, sonder om asem te skep, begin ek praat. Ek beskryf die resep, lys al die bestanddele, verduidelik al die stappe. En dan voeg ek by: ek het nie kerrie bygesit nie.
Sy is vir ‘n oomblik stil, en dan sê sy: ‘Ek hou vreeslik baie van groente.’
‘Ek ook, ‘ antwoord ek. Dan draai ek om om die mikrogolfoond oop te maak, die minuut en ‘n half lankal verby. Die vrou neem die besem en begin die vloer te vee. Skielik besef ek dat ek oortuig was sy is stom.
*
Die geselskap tree op by ‘n plek in die township. Na die vertoning loop ek saam met die gehoor na buite. Voor my is ‘n kind wat hande- viervoet kruip, sy voete al slepend agter die arms aan.
*
As hy in ‘n magsposisie was, sê my pa, sou hy alles wat met bekendes te doen gehad het, verban het. ‘Dit is so geweldig pervers,’ sê hy. ‘Dit laat dit lyk asof Nicole Kidman se troue en baba belangriker is as die van iemand in die township.’ Hy het in die biblioteek gestaan, aan’t wroeg of hy glanstydskrifte vir twintig sent een moet koop. Die vrou saam met wie hy bly is mal oor dit, en dit is lekker tydskrifte want dit het al hierdie prentjies in en mooi mense en mense is van nature geïnteresseerd in ander mense. Maar dan besef hy die goed gaan die huis vol lê en die kinders gaan dit optel en lees. En hy sal sleg voel, want die kinders sal blootgestel word aan ‘n hele stel waardes wat totaal wanaangepas is.
*
In een van ons produksies werk ons met townshipkinders. ‘n Lang seun met knopknieë speel die rol van ‘n springbok. In elke dans is sy tydsberekening uit. Ek is van plan om hom te vra om nie meer te dans nie, maar verander dan van plan.
In my geestesoog sien ek ‘n beeld van my pa as kind. Ek onthou hy het my vertel hoe hy sy pa sou dophou terwyl dié die vuur platmaak sodat die kole gereed is vir braai. Eenkeer, terwyl sy pa besig was om vuur te maak, gaan hy binnetoe om iets te gaan haal. My pa wou help en hy slaan toe die vlamme plat, met die gevolg dat die vuur per ongeluk doodgemaak is. Sy pa was woedend en hy is met tien belthoue gestraf.
Later sien ek hoe die knopknieëkind eenkant op sy eie ‘n dans oefen, hard aan die konsentreer.
*
Thandeka, die vrou wat die partytjie gehou het, struikel dikwels oor die Engelse dele van ons tekste. ‘Vat jou tyd,’ sê ek vir haar. Soms bedoel ek dit. Haar houding verander, soos sy beloof het dit sal. Sy het meer geduld met my konstante korrigering. Ek is nie seker hoe bewus sy van my geïrriteerdheid is nie. Ek probeer my bes om dit weg te steek. Wanneer ek haar vra om ‘n sin te herhaal, doen ek dit in ‘n kalm stemtoon.
‘n Paar weke na die partytjie daag sy laat op vir werk. Ek waarsku haar dat dit te gereeld gebeur. Sy kyk af na die vloer. Sy is jammer, sê sy. Dit gebeur te gereeld, sê ek. Sy draai om en loop weg.
Die volgende oggend stuur ek vir die rolverdeling ‘n sms om te sê hulle moet later inkom, aangesien iets voorgeval het. Ek ontvang ‘n antwoord van die vrou. Dit lees: ‘Ek sal doen net wat jy wil hê my baas. Ek is maar net ’n lokasiedier.’*
Geskok, vra ek haar om my oor middagete te kom spreek. Terwyl ons werk vermy ons oogkontak. Ek kan sien sy is tranerig. Na die repetisie loop ons na ‘n plek waar ons privaat kan wees. Ons sit aan weerskante van die tafel.
‘Hoekom het jy daardie boodskap gestuur?’ vra ek.
‘Ek was kwaad,’ sê sy. ‘Ek het nie gedink nie. Ek het net geskryf. Ek is jammer. Wanneer ek kwaad is sê ek sommer net dinge.’
Ek wil haar glo. Ek kan sien sy wil haarself glo.
Sy gaan deur ‘n moeilike tyd, sê sy. Sy het oorreageer.
‘Maar dink jy regtig dit is hoe ek jou sien?’ vra ek, wetend wat haar antwoord sal wees.
‘Dit is nie hoe ek dink jy my sien nie,’ sê sy.
‘Want ek sien jou nie so nie,’ sê ek.
‘Ek weet dit.’
Ons sit in stilte. ‘n Traan rol oor haar wang.
‘Dit was ‘n vreeslike ding om te sê,’ sê ek.
‘Ek’s jammer,’ antwoord sy.
Na die tyd, terwyl ons in die paadjie buite die deur staan, sê ek vir haar ek is ook jammer, omdat ek die vorige dag ongeduldig was. Sy gee my ‘n drukkie.
‘Jy is belangrik vir my,’ sê ek, en dit is waar.
‘Jy is vir my ook baie belangrik,’ antwoord sy.
Ek voel asof ek nog iets moet sê, maar ek kan nie aan iets dink nie. Skielik is ons altwee skaam.
Wanneer ons oë gedurende die volgende paar weke ontmoet, glimlag ons senuagtig vir mekaar.
*
Wanneer my pa my besoek, neem hy die vullis uit. Hy krap die klewerige oorblyfsels van die stoof af, skraap die aanpaksel tussen die teëls met ‘n mes uit en haal die skimmel van die stortgordyn af. Die skimmel vorm in die voue van die stortgordyn, sê hy. Wanneer hy dit afspoel, is dit bevredigend om te sien hoe die vuil water daarvan afloop. Later, nadat hy ‘n geleentheid terug na die plot gekry het, ontvang ek ‘n sms:
SO MOOI VROEG WINTERSAAND HIER. KRIEKGELUIDE HOORBAAR IN DIE KOUE LUG EN SAGTE GEKEKKEL SOOS DIE LAASTE KUIKENS LêPLEK VIND. HONDE IS STIL, INGEKRUIP IN HOKKE MET NEUSE BY STERTE. VOEL DIE KOUE. HOOP JY HOU JOUSELF WARM. LIEF VIR JOU, PA.
* ‘Lokasie ‘ was die term wat gedurende die apartheidsera vir townships gebruik is.
Translated by Liezl Dick
Podcast voorgelees deur die outeur





