Sy't begin vasklou aan goed die oomblik toe sy geleer het om te lees. Candy Flower Meister was nooit bewis nie, sy het hard probeer maar haar onderbewissyn wou net nooit onder bly nie. Haar vasklouery het in graad 1 begin, woorde was soos kos en Candy was 'n maer kind met wurms. Sy het elke word opgeëet. By die huis was haar ouma en oupa, wie hoog en laag gesweer het om haar tot die beste van hul vermoëns groot te maak, woordkunstenaars. Hulle kon dom, slim, goed, sleg, erenstig en nonsense tegelyk praat. Sy was lief vir hulle. Sy was die meeste lief vir hulle wanneer hulle hartseer woorde gepraat het, soos liewe Here en dan het Candy stilgestaan om haar asem terug te kry, maar, toe gaan hulle dood en Candy moes oppak en trek, trek vanaf ‘n plek met bome, berge en water wat was waar hulle behoort het. Na ‘n plek saam met haar familie, ‘n ma, ‘n pa en ‘n suster genaamd Polly Hester Meister. Die familie het in 'n dorp genaamd Simon gewoon. Wat nie regtig ‘n dorp was nie, maar ‘n plek. Die plek het ook nie aan iemand genaamd Simon behoort nie. Dit was ‘n plek en mense behoort nooit regtig aan plekke nie. Die familie het vir jare in Simonstad gewoon en toe die susters se tienerjare begin, het die familie opgepak en getrek. Die pa het ‘n nuwe werk gekry by Ford Samcor in 'n dorp genaamd Graham.
Dit het nie die susters lank gevat om te besef dat die dorp genaamd Graham wel aan iets of iemand behoort het. Grahamstown het nie aan die Britse general behoort na wie dit vir noem was nie maar aan die berge. Toe die familie die nuwe provinsie in ry, het Candy gevoel dat die berge en bome haar terug verwelkom. Rural, landelik, plattelands was nie agterlike woorde vir hulle nie.
Toe die familie in die dorp genaamd Graham aangekom het, het Candy geweet dat hulle daarheen gestuur was en ook dat die dorp dalk die plek was vir haar met se oue gothic kerke en standbeelde van engele het dit Candy herinner aan haar ouma en oupa en Sondagoggende in die kombuis besig om kos te maak met 'n Jimmy Swaggart plaat in die agtergrond: ‘we are standing on holy ground, with angels all around’ en ‘I'll never be lonely again, never again.’
Haar suster Polly aan die anderkant was glad nie impressed nie. Sy wou hip hop en rock ‘n roll. Polly het haarself probeer dood maak terwyl die familie in die dorpie genaamd Graham rondgery het. Sy het die kar se deur oopgetrap en probeer uitspring, wat actually baie stupid van haar was omdat hulle pa 'n besonderse slow driver was en dat sy practically uit die kar gekruip het. Wat die selfmoord poging situasie nog meer belaglik gemaak het, was dat dit alles vlak voor die Wimpy gebeur het. Die koerante sou oneliners galore gooi het ‘Polly Hester rafel uit voor die Wimpy’. Albei susters het mettertyd vrede gemaak. Polly met die dorp genaamd Graham en Candy met mense genaamd haar familie.
Die familie het goed geleef in Grahamstown, dit was 'n regte plek vir 'n familie. Candy het daarvan gehou om klein en minderwaardig teenoor die oorweldigende grootheid van die natuur te wees maar Polly het selfs op die ouderdom van veertienjaar ‘n opgeblaasde ego gehad. Sy het die heeltyd die Oos Kaap met die Wes Kaap vergelyk. Terwyl sy geweet het dat ‘n mens dit nooit moes doen nie. Om plekke te vergelyk is 'n onreg. Veral aangesien die een plek ‘n berg het wat soos 'n tafel lyk en jou naam ken. Candy en Polly het geleer kaalvoet loop en hul voete het later self so 'n pienk-oranje tint gekry, wat beteken het dat die grond waarop hulle geloop het besig was om hulle te infiltreer soos die Russiese mafia of Amerika. Die susters het piesang gegeurde melk uit 'n karton gedrink en selfs vriende in Fingo village gehad waar die strate se name A, B, C was. Hulle lewens was goed. Hul pa se dronkheid en hul ma se geweld was in die agtergrond van hulle lewens. Die familie wou gelukkig wees. Florencestraat, Oatlands, Grahamstown wou die familie ook hê. Geluk vir die Meister Familie was om te kry wat jy wil hê. Toe kom die dag wat nie omgegee het vir die familie nie. Die dag wat alles weer verander het. Die dag wat besluit het om die engele en heiliges weg te stuur.
Candy het 'n groot liefde gehad vir comics en het na haar indrukwekkende versameling sit en staar. Polly het televisie gekyk toe daar 'n klop aan die voordeur was. Die familie het nooit gaste gekry nie daarom het die susters geweet dat daar iets fout was. Hulle ouers was uit vir drankies omdat die pa 'n promosie gekry het by die werk. Die susters het onmiddelik geweet dat daar iets vreesliks moes gebeur het toe hulle die deur oopmaak en die polisieman sien staan met daai kyk in sy oë, daai kyk wat sê ‘shit, twee meisiekinders, ek moes 'n vrou gevra het om saam te kom’. Die susters het nie gehuil of enigiets nie. Hulle het gesamentlik besluit dat kinders en ouers nie aan mekaar behoort nie. Dit is 'n geforseerde verhouding. Toe die susters die aand by die Fort England hospital uitstap het hulle hul skoene uitgetrek en kaalvoet teruggeloop na hul ouerlose huis toe. Daai selfde aand het Candy al haar comics weggegooi en Polly het hul pa se liefde en waardering vir drank opgevat en ook soos hul pa begin hou van enigiets wat die lewe mistigs kon laat vertoon.
Die uitry uit Grahamstown uit was veral moeilik op die susters. Polly het opgecrack toe hulle verby die Wimpy ry. Candy aan die anderkant het geweier om ooit weer 'n boek oop te maak nie. Sy het net na omslagte gestaar en self opgemaak wat sy gedink het staan daarin. Die dorp genaam Graham was haar boek, hoe kon sy enigiets anders lees?
Jare later toe die susters jong vroue in hul twintigs was en niks meer in gemeen met mekaar gehad het nie het die lewe besluit dat dittyd was (om te bloei) vir bloed en met ‘n lang skerp mes het die lewe die stukkies wat die susters gehad het weg kom sny. Candy het aan die slap geraak met 'n sigaret in haar hand en die helfte van haar huis afgebrand. Die ander helfte was okay maar die ding wat erg omtrent die brand was, was dat Candy haar kat doodgemaak het. Haar kat se naam was Ted, vernoem na Ted Hughes. Die kat het aan die ander kant van die huis gewoon. Candy was lief vir Ted maar liefde was nie ‘n rede om mekaar se spasie te oortree nie. Toe die eenkant van die huis afbrand, met Ted the Cat en al Candy se ongeleesde boeke, het sy besef dat iets iewers sal moet verander. Candy was behandel vir rook inaseming wat vir haar baie hartseer was omdat sy wel reeds ‘n roker was. Twee dae later is sy wakker in die hospital en dit het beteken dat sy die spieël moes face. Haar eie gesig moes aanskou en dat al die jare van spieel vermy, uiteindelik nou verby was. Candy het na haar suster Polly gevra. Soms vra susters na mekaar. Die dokter het vir Polly gevind en dit is hoe al die jare se opgaarding van gedagtes uitgekom het. Dokters het hul plek, al is dit net soms om spieëls draai.
‘Toe sy klein was het sy blare versamel, maar net die wat afgeval het en onder die boom was, sy kon nie die wreedheid hanteer dat hulle so naby en sover van hul familie af was nie,’ sê Polly terwyl sy haar maer enkels kruis en terug sak in die lelike groen bank. ‘Dr. Swartz, my ondergevoede suster moet haar eie afspraak maak indien sy 'n probleem het,’ sê Candy kalm terug terwyl sy 'n lelike groen kussing saggies streel. ‘Oh, was dit veronderstel om 'n belediging te wees?’ sê Polly. Haar skraal, tingerige lyfie skiet regop vanaf die bank en haar groot frizzy deurmekaar hare is histeries. ‘Hoekom is ek hier?’ vra sy. ‘Omdat jy al familie is wat ek ken en ek het na jou gevra,’ se Candy. ‘Wie se skuld is dit Candy, jy't ons ouers laat weggaan,’ sê Polly. ‘Nee, dude, hulle is dood in 'n kar ongeluk, dad was dronk,’ sê Candy. ‘Goed dan dames, uh julle kommunikeer jul gevoelens,’ sê Dr. Swartz ongemaklik. ‘Wat dink jy Polly?’ vra hy sag. ‘Ek dink doc, dat my lieflike suster aandag soek, soos altyd, sedert ons ouers se ontydige dood,’ sê sy en rek haar uit. Candy staan stadig op uit die diep goren bank waarin sy gesit het. ‘Ja, Candy, hoe voel jy?’ vra Dr. Swartz.
‘Wel, doc, dit het alles begin op 'n klein dorpie waar mense nooit grootword nie. Ons is albei gebore in Simonstown in die Kaap. Ons ma het ons by die huis gehad, sy was 'n ninja en het nie geglo in hospitale nie. Ons pa was 'n goeie pa, maar hy was 'n vis. Eendag toe ek twaalf en Polly tien jaar oud was het die vis huistoe gekom en gesê “Pak op, ons trek." Daardie jare het ouers bitter min verduideliking gedoen en kinders het hul plek geken. Ons, ons het dieselfde dag omtrent opgepak en getrek. Wanneer ek sê ons, verwys ek na myself, my imaginary vriende, Lola, Dolly en Hector asook my toe nog suiwer suster en haar horders van onsigbare vriende. Die oomblik wat ons ninja ma ingestorm het en gesê het "Ons trek.", het ons getrek. Ons vis pa het ons nie gehelp pak nie. Die ninja het vir hom gesê "GAAN TIEP YOU FOKKELWERD". Hy het altyd gaan tiep omdat hy fokkelwerd was. Elkgeval doc, ek laat my suster toe om verder te vertel. Ek wil onder geen omstandighede my en haar storie terselfdetyd vertel nie. Ons albei het in ons eie kapasiteit Grahamstown toegetrek,’ sê Candy en stap stadig weg tot by 'n venster.
‘Okay,’ sê dokter Swartz. ‘Jy is onfokken gelooflik Candy,’ skreeu Polly en gooi 'n lelike groen kussing in Candy se rigting. Soms gooi 'n mens dinge omdat jy nie gevoelens kan gooi nie. ‘Grahamstown is die rede vir jou madness?’ vra Polly. ‘Nee, Polly, ek weet nie,’ antwoord Candy. Candy draai haar kop na haar suster. Die meisiekind genaamd Polly Hester Meister. Kan nie maklik wees om met so ‘n naam saam te leef nie. Sy lyk ouer en moeg met haar groot deurmekaar hare, nes hul ma. Candy onthou die dag toe alles gebeur het, die dag toe hulle twee besef dat susters nie een persoon is nie.
Hulle ma was 'n huishulp en het in 'n plek met die naam van Durbanville gewerk. Die familie waar hulle ma gewerk het was altyd die beste, die mooiste, die slimste en altyd eerste. Ses kinders, twee ouers, twee karre, ‘n rot in ‘n hok. Dit is hoe sy altyd dinge vir hulle in ry langs mekaar beskryf het. Hul ma het dit altyd ook aan hulle vis pa gedoen, goed in ‘n ry langsmekaar voor hom gesit wat hy nooit sal hê nie. ‘Kyk vir Johann, daai man is 'n pa, ‘n beskermer, ‘n provider en jy, jy werk ‘n job wat jy haat, jy suip soes ‘n vis, jy is my grootste mistake ooit,’ het sy altyd gesê. Die susters het sleg gevoel vir die vis.
Eendag toe bring die ma 'n boks wol weggooi goed daar by hulle aan. 'n Klomp ou boeke. Candy het sleg gevoel, boeke was soos liefde, niemand moes dit ooit weggooi nie. Onderandere was daar 'n copy van J. M. Coetzee se Dusklands en Les Ethiopiques en Tintin au Congo deur Hergé. Polly het Coetzee gekies, Candy Pratt en Hergé. Die susters het begin om hul eie mense te wees maar het tog aanmekaar behoort. Susters het 'n manier om tog aanmekaar te behoor. Liefde is gegee. Die ding wat die Meister meisies van mekaar gedryf het was nie die dood van hul ouers nie, die ding was liefde. Liefde het hulle swak gemaak, nie soos ander susters nie, saam was hulle veel swakker. Candy onthou hoe hulle ma eendag hul kamer ingestorm het en al hulle plakkate van die mure afgeskeer het. Sy het gegil en skel en skeer al wat 'n bekende gesig was. Sy en Polly het op 'n bed gesit en net vir hulle ma gekyk, besete, hard befok besig om papier teen 'n muur te baklei.
Gedurende daardie chaotiese episode het sy en Polly besef dat hulle twee altyd daar sal wees om mekaar se knoppies te druk. Vir ewig, sien hulle, hul ma in mekaar. Soms word ma's lig en dogters asem hulle in.
‘Jy maak altyd asof ons, ons nodig het,’ onderbreek Polly Candy se gedagtes. ‘So asof ons nie deur genoeg al is nie, as ek na jou kyk sien ek net twee meisies sonder ouers in die fokken land," sê sy. ‘Jy sien altyd wat die seerste is,’ sê Candy. ‘Pyn, beauty, dieselfde fokken ding, Bukowski het geskryf: “I am a fat man being eaten by green trees, butterflies and you”; as ek na jou kyk, Polly, sien ek my pyn en my beauty,’ sê Candy. ‘Dit is seker so Candy, maar hoe is ‘n mens veronderstel om aan te beweeg as jy heeltyd die verlede in die gesig staar,’ sê Polly. ‘Ek dink dit het baie min te doen met aanbeweeg, Candy, soms is stilstaan nie so sleg nie,’ sê Polly. ‘Hoe bedoel jy?’ vra Candy. ‘Ek bedoel, dat ons nog nooit regtig stilgestaan het nie, die verlede was nooit hede nie’ sê Polly ‘Dis waar maar, hoekom? mom en dad is dood, jare gelede, ons het mekaar ‘n paar jaar gelede gesien, niemand se lewens is perfect nie, almal soek, sukkel of baklei met en teen iets, wat maak ons dan nou so besonners?’ vra Candy. ‘Mekaar,’ sê Polly ‘Besef jy hoeveel mense is alleen, nie omdat hulle wil wees maar omdat dit is hoe die lewe dinge vir hulle gooi?’ sê sy. ‘Ons was nog altyd alleen Polly, net omdat daar mense rondom ons was beteken nie dat ons nie alleen was nie’ sê Candy. ‘Ons het self gekies om alleen te wees, Candy, jy weet dit tog,’ sê Polly. ‘Ons het na hulle gekyk, mom en dad, omdat hulle loners was, dit is hoekom ons gedink het dit was die way om te wees, dit is die waarheid, ons was nie half as bad as wat ons, ons self laat dink het nie, stupid mistake,’ sê sy. ‘Ja, jy is reg, maar once again, wat maak dit saak, nou?’ vra Candy. ‘Dit maak saak omdat daar meer mense rondwaal wat nie weet, hoekom en waarom hulle is hoe hulle is nie.’ sê Polly. ‘Polly, jy klink soos iemand wat te veel self help boeke gelees het,’ sê Candy. ‘Ja ek het, ten minste het ek gelees, wanneer laas het jy die moed gehad om ‘n boek oop te maak, sien jy dis waarvan ek praat, jy dink om te wees soos jy is, is reg en dit is nie, jy en ek is gefok, op so many levels, net niemand het nog die guts gehad om dit vir ons te sê nie, jy kan nie ‘n boek oopmaak en lees nie, ek kan nie ‘n burger en chips by ‘n sekere foodchain koop nie, maar die lewe gaan voort en niemand sê niks, almal het ‘n issue of twee, die wêreld hang aan skerwe, oorloë, globalwarming, ressesie, whatever, en ek worry oor ons, oor myself en die enigste ander persoon wie ek ken, so forgive me, as ek ‘n bietjie kerm, mense wat life is vir mekaar doen dit,’ sê Polly. ‘Jy is reg, ek weet jy is reg, ek weet net nie of die ons wat al die jare in ons koppe bly regtig is nie en ek is nie seker of ek myself wil ken sonder die ons wat ek al jare in my gedagtes opgaar nie, om die waarheid te sê, nee, ek twyfel of ek is bang dat die ons wat ek dink ons as susters is, is nie die ons wat ek aan gewoont is nie, bang ek het ons opgebou tot iets en dan is ons niks, net nog twee susters met baggage,’ sê Candy.
‘Maar so what, as dit al is wat ons is, net twee susters sonder enige special effects, dink jy nie soms dat dit al is wat ons nodig het nie? Na Grahamstown, na alleen rondwaal, na alles en na niks, na mom en dad, is al wat ek dink ek nodig het net ‘n suster sonder die special effects, my suster wat altyd voor my ingespring het as ons ma my slaan, die suster wat nooit voor my gehuil het nie, die suster wie se gesig ek in ‘n crowd kan uitwys en sê dit is my suster en sy ken my,’ sê Polly. ‘Vreemd ons het actually succeed om nie soos hulle te wees nie’ sê Candy. ‘Well, dit het ons ‘n rukkie gevat, hell, dit het jou arme kat gevat om ons bymekaar te bring en dit te besef,’ sê Polly. ‘Ja, dis amper funny’ sê Candy. ‘Amper,’ sê Polly. ‘Onthou jy, hoe mammie altyd gesê het dat almost nie tel nie, en hoe ons altyd vir mekaar gekyk het elkekeer as sy dit gesê het?’ vra Candy. ‘Ja, en dan het jy altyd elke vraag wat sy vra met amper geantwoord, dit was actually nogal ‘n funny herinnering,’ lag Polly. ‘Dude, die funniest ding onthou ek nou, hoe mom en dad in stilte ge eet het, altyd, doodstil en dan drink dad sy koeldrank te vinnig en burp kliphard, en dan lag almal behalwe mom, sy so net kop af in haar bord, verder eet asof sy niks gehoor het nie, tot ons eventually ophou lag het en dad die smile van sy gesig afgehaal het, tot by sy whiskey bottel geloop het en begin drink het, eers dan het sy opgekyk en so half met ons gesmile,’ vertel Candy. ‘Ja, dit is funny’ sê Polly. ‘Ek is bly ons ma was so ‘n mal mens, otherwise, sou ons nie ons gewees het nie,’ sê sy.
‘Ek dink ons het actually vordering gemaak dames,’ sê Dr. Swartz maar hy lieg. Dit is nie wat hy dink nie. Hy dink aan sy eie broers en susters en hoe die meeste van hulle dood is en hoe onbelangrik hulle vir hom was. Hy dink aan hoe gelukkig hy was toe hy kon wegbreek en sy eie familie skep. Hy dink aan sy ouers en hoe tradisioneel hulle was en hoe hy wonder of daar wel ‘n wenresep is of goeie gesonde ouers goeie gesonde kinders grootmaak en wie besluit. Hy dink aan die twee susters in sy kantoor en hoe baie meer hulle weet, al die jare se opgegaarde gedagtes. Hy dink aan die eienaardige name van die susters. Hy sou nooit, nooit dit aan sy kinders kan doen nie. Hy sou nooit die moed gehad het nie. ‘Julle name?’ vra hy. ‘Wat van ons name?’ vra Polly. ‘Ek was gebore op my ouma se verjaardag, my ma was besig om candy blomme te maak vir die party toe sy in kraam gegaan het,’ sê Candy. ‘En ek was gebore toe my ma by 'n tekstiel fabriek gewerk het. Sy het ons vernoem na die laaste ding wat sy aan gedink het voor sy gekraam het,’ sê Polly. ‘Sal julle dit ooit verander?’ vra Dr. Swartz. ‘Nee dokter, ons name het aan ons ouers behoort en soms het 'n mens iets nodig van jou ouers,’ sê Polly. ‘Daarmee, stem ek kinda saam, mens het soms iets nodig om jou kwaad te hou,’ sê Polly.
‘Doc, om te kla oor jou lewe en dit te wil verander is anders as om te kla oor jou lewe en tevrede daarmee te wees, ons ouers was lousy mense maar when you know better you do better, soos tannie Oprah sal sê,’ sê Candy. ‘Hoe voel julle nou oor mekaar?’ vra Dr. Swartz. ‘Ek, doc, ek voel oor my suster soos ek nog altyd oor haar gevoel het, saam is ons swak, sonder mekaar gaan die lewe aan, die aarde draai en shit happens, maar my suster is my suster, sy is myne, ongeag wat,’ sê Candy. ‘Doc, daar is nie altyd 'n intelligente antwoord op vrae nie, soms is begrip net om te weet dat 'n mens iewers hoort, al is dit nie jou eerste keuse nie, of selfs jou laaste keuse nie, jy behoort aan iets, jy hoort," sê Polly. ‘Ja,’ sê Candy.
Podcast voorgelees deur die outeur





