ek sit in die see
die see is droog
kinders het dit opgedrink
en toe was daar niks
ek klim uit die kar
my oë is jonk
uit die lig klim blare
teen die mure uit, rooi
universiteit lê voor
skool is verby
en nou moet ek hier word
wat ek wil wees
hoe lyk dit kind, vra my ma
dit lyk reg
die geboue is netjies
ja
my ma weet wat’s goed vir my
my ma is my herder
maar nie elke skaap
slaap in die middel van die trop
ek was kind ek was wees
ek was dom ek was vlees
en gereed en gelaai
koeël by die kamer
kennis by die kop
of só het ek gedink
maar gou sou ek besef
van die lewe wis ek niks
en raakskiet en vreugdevure
was nog ligjare weg
vir eers die ongewone
alleen staan en veg
tasse hou lewens
binne mure bou na buite
lug en planne en tuine
ja
van cradock af na bedford
van bedford af na grahamstad
carlisle bridge en die visrivier
turksvye en euphorbias
deur slaggate en die hel se poort
waar spookhuise met oë toe tel
hoe die bloekoms en die beeste
met die voorjaar staan vervel
kraai onder roetjas
op paal op grond
deur die oop venster wind
hier binne musiek
hierdie landskap ken ek goed
maar ook dit beteken niks
nuwe woorde vir nuwe dinge
skroei die groene grou
ek is in grahamstad vir vier jaar
wat later vyf word
en op meer as een manier
is dit my geboortedorp
afpak inpak rekenaarmasjien
totsiens vaarwel
die dorp beweeg
soos ’n hand vol miere
oor mense en dakke
die katedraal en die son
skaduwees die wekkers
van die mensdom se plafon
oor radiohead se ok computer
waaruit die yskas tril
en die verbeelding wakker
skryfpen omhul
ja, waarom woorde weet ek nie
hoe dit kom weet ek nie
net een ding is seker:
ek droom in ink
die res staan vermink
teen die drade en bloei
die brein is sifdraad
op die bodem, sterre
’n baba gee ’n tree
sonder wete van usain bolt
mens se behoud is dikwels seker
skilpad-teen-haas-gewys die beker
ek stap afdraand
ek stap opdraand
ek staan vroeg op
ek slaap laat
klas loop en boeke lees
musiek ontdek en mense
wat jou uitkyk asof
jy ’n vreemde wese
en jy vir hulle
zimbabwiërs goths
hip hop kids en bungies
joburgers en locals
van dieselfde haar gespin
kom ons almal hier tesaam
sommige stink sommige mooi
in die kooi, onbeskaamd
hoog bo die oos-kaap blom
donderwolke uit die niks
grom weerlig dreigend dik
skaduwees en sweef
die droogte bly bloot tydelik
altyd kom die insek
wat die spieël oopkloof
die nag kom wakkerskrou
’n druppel water uit die lug
laat die vinke visse word
en die son kom lê en broei
anemone uit die buik
waar was jy toe?
hoe het jy gelê?
dit was nog jare
voor ek jou sou ken
maar iewers reeds het iemand
die kaarte so laat val
gekol op dobbelstene
onuitwisbaar gekerf
hoe weet ons wat gebeur
en wie ons laat word wat ons word
nee, ons weet niks
en die uiteinde is geluk
intussen is die muskiete
met gewere oor die grens
hul sleep die biltong terug
en met takke hulle spore dood
trofees teen die mure
opgestop vir die eeue
net om te kort gewiek te word
self gebalsem, toegekis
dag in en dag uit
die weke op die kerf
slap tjips in die kaif
krieket op die great field
diep in die biblioteek
tik ’n bom en om
eksamenlokale bome
kaalgetrek deur herfs
maar musiek trek onsigbaar
deur sigaretrook en drank
en om mondhoeke glimlagte
in breine ritmes, ritmes
feestyd word mens moeg gekys
deur kuns en kraal en kind
vars gebind uit ou verslind
die winter se nuwe huis
word oopgegooi en mense
stroom na kaggels met hul hande
voorop en oop en helend soos iets
wat ’n hart aan die gang moet skop
loer in by elke deur
skud hande deur dik truie
totdat tassenberg jou die moed gee
om jou hart na wil te klop
staan vooroor om die mikrofoon
asem in die vuur
die jasse van die soldate
gooi skadu’s teen die muur
die mense in die gehoor
het neuse ore en oë
en elke laaste een
herberg die moed om ook
te kan toor en hase te pluk
uit die gehipnotiseerde hoed
uit die suid-afrikaanse gemoed
wat hier kom tent opslaan
coolword word vanself
in die kop ontlont en dan
is die res van jou lewe joune
foute voorkop geskryf, gedoem
ons raak aan mense
wat die toeval na ons bring
wat vergete agterbly
sal die toekoms uit ons wring
nes die vloed eendag gaan lê
die sneeu smelt en die ryp verkas
wanneer die dag sy suigwerk doen
die nag laag lê, bed verpas
maar eers nog bier en shots
by bright lights en die union
die vic en cathcart arms
tin roof blues, pop art
sons of trout en amersham
sugardrive en squeal
die dolly rockers en chris letcher
en matthew van der want
strompel om mekaar se skouers
broederliefde ploeg op land
veraf blêr ’n hadeda
naby tjirp ’n hond
new street langs en high
raglan duncan betram
beaufort en african
deesdae winnie s’n
sou die kaart oor ons hars bly span
jare later, stories korter
ons vergeet en ons vergewe
ons onthou en ons onthou
nagte met wellington’s pies
op die bp express se bankie
en presies hoe om die koffiemasjien
te kul vir meer
en huispartye bottels wyne
mountain drive old brown sherry
kerslig kampvuur krat op sit
môre is ’n mite
met die radio oor die berge
nat spore uit die badkamer
rypvoete oor die gras
tussen die tone, stereo
vlug ons weg na wat ons weet
in die aangesig van wat
met hale oor ons sweet
soutword, koudword
ek droom in die soom van die see
die lied dein op en neer
maar as ek wakker word
stil, die sagtheid weg
dom strompel ek van listigheid
na lus na listigheid
ondergedompel in die huis
ligte aan als verby
vermy maar niks aspris
die stert is lank en klap
jou voor jy weet jy lê
jou voetsole in die lug
in die witgeverfde gesigte
langs die koue katedraal
klingel die munte klein
oor die seën vir afrika
kerktorings mag dalk druk
na die hemelse behoud
maar voete druk vir ewig
afwaarts teen die teer
nou stamp hulle ritmies neer
teen die gekraakte strate
braak die geeste los
handeklap, handeklap
saagsels vir die reën
mis vernis die vallei
die nag kom as grot
kombers oor elk se kop
mens sou dink die voete verniel
maar hulle voed en verryk
elke mens wat hier kom
laat staan nog dié wat bly
laat iets van hulself
op ’n straathoek agter en dan
wanneer die dorp hom weer kon kry
is als gedelg in goud
my flitsie klein
die donker diep
bruggie fyn geweef uit gras
uit die riete ’n piep, ’n piep
iris oop en toe lig en donker
swart en wit
die klank van jazz
carlo mombelli, god
die sterre staan stil vir ons
die kleine stad ons kroon
makanaskop kroes
hare in die wind
bome met wortels af
na waar die waters rustend draai
hou klip en steen en sement
en lamppaal aanmekaar
buite blaas die donkies
saksofone en trane
oor sinkdakke en houtvure
vlermuise vir kos
rook is die land se warm
waaronder wit die oë loer
na tien vingers om koppie geklem
hartklop biddend noord
sê nou maar ons leef vir altyd
waar die see die land ontmoet
aardverwarming en oorlog
niks vir ons lewenslus
sou ons dalk oorloop van onthou
te veel van lag kon kry
of huilend in ons slaap
te diep aan leed bly klou?
nee wat, die wind
in die wind verslind
jy my kind, die vonke
die pylpunte, jy my kind
in die ontsnap van soen
en die kortstondige vertoef
en maniere en skarniere
en oeg, die lekkerkry
van vooroor tuimel
en tong by tong versmelt
die roomys van ons lywe
oplek teen die duine
staan regop op die plank
met die son op die rug
en die land daar voor
die brander is ’n brug
waarop mens vir altyd sou kon
ridder speel en roep
was dit nie vir swaartekrag
en die haaie in die sloep
onder in die herfsblare
onder in hoogstraat
swem spiespunte en bene
die grafte van gister
die geskiedenis het gemeen
dat ons vandag op dakke
dagga kan rook en saam
in die strate kan loop en lag
is dit dan nie wonderlik
dat sokkerballe en rugbyballe
nie op dieselfde manier
hop nie?
dat tyd homself uitsorteer
en die dood kaalgat loop
kop uitsteek uit tonnels
tong uitsteek vir pret?
ja ons dink ons weet
dink ons kan
maar wanneer die wekkers lui
lê ons koppe diep in kussings
en die wyer wêreld
van soedans en iraks
aardskuddings en vloede
armoede en siekte
die kongo en somalië
en sommer net die wat bedel
by die shoprite en die spar
hartseer en verdriet
draai daar buite oor die bulte
en die pynappellande rond
met vlae halfmas gehys
wagtend op ons hulp
lower albany boer en rumoer
daar word verkrag en gemoor
en vigs stoom deur die land
op elke vierde gesig
maar wag ’n bietjie nou
waarom die berou
ons lag en ons leef
oor dit wat kon dit wat sou
in die hand se warm vou
waar ons onsself bevind
kruispad kies en koers
die toekoms bly nog blind
met die see wat stadig weer
natword van die seer
en die strande blink, blink
eilande verteer
waarom nou die kronkels volg
skielik sommer brande stig
deur afskop en kierie lig
tequilas deur die oë drink
deur hand op te lig vir nuwe bloed
diep te skink en bors te voed
te voet deur strate
gelate, gelate
die vel onder die tong
na die soetheid smag
die hangmat terwyl
die bands begin speel
koppie op en koppie af
duiwe teen die voorruit
en mokador en jagermeister
sien ons wen, sien ons wen
gorrel af die grate
die dassies uit die gate
die skote klap om die ore
van die springbok nude girls
nou dat ek weet waar jy was
by die see dalk, waterfront
besef ek wat weg was
waarom jy moes kom
ja, een spoor het ver gelei
mens kan sê hasepad
maar elke pad het optelgoed
dinge wat jou verder stu
so moes sneeu om hemelsnaam
forel en bier en linkerhandstuur
saam met wonder en droom
verduur word, geniet word
maar selfs voor dit nog
ontmoet ons verbaas
jy meer as ek
ek verdwaas
maar jou arms oor die tafel
reik na my hande
hou my vas
hou my hier
kyk hoe lyk ons nou
elke vou uit ons gestryk
net om met nuwe plooie
weer die wêreld te verryk
ek pleit by jou, ek soebat
dra jou lippe in my oor
sit jou glimlag op jou kop
vat die dag aan die kraag
ek is hier as jy my soek
onder jou hare, in jou skoen
tussen jou vingers en jou tone
elke oogwink hou ek dop
van wakkerword tot slaaptyd
weet ek waar jy woon
en in my ribbekas drup die son
sweisend tot ’n blom
in grahamstad staan die kruispad
die toeval en die geluk
arm in arm langs die strate
singend na die president
in grahamstad word die mense
wakker aan die slaap
droom die dag verby
die dorp is hulle see
my see is nou weer vol
en als het hier begin
hoe het jy geweet?
hoe het jy geweet?
Podcast voorgelees deur die outeur





