Dit is drie-uur in the namiddag toe die bussie Grahamstad binne ry. Die stadjie lê breed en lui tussen droë, plat heuwels. Dit lyk soos die Wilde Weste van Suid-Afrika. Dit is Saterdag en dit is winter. Maar aan die bome groei soet lemoene.
Grahamstad is ‘n goed versorgde stadjie. Met netjiese wit huise en groot tuine, langs breë reguit strate. Hier en daar het die sielevangers ‘n kerkie of twee gestrooi – daar is die New Christian Church, die Methodist Church, die Baptist Church, die Church of Birth…vir elke afwykende oortuiging is daar ‘n ander kerk. En ook wat betref opvoeding, het hulle hul bes gedoen. Daar is meer skole as winkels vir die amper sestigduisend siele, die bevolking van die townships, ‘n slordig afgeronde honderd en tagtig duisend, party praat selfs van vyf honderd duisend hongere maë, nie daarby ingereken nie.
Grahamstad is ordentlik, vir so ver as die voorstede uitreik. Daar is nêrens strooirommel nie, nêrens ronddwarrelende papier nie, en daar is ook geen onkruid in die kortgeknipde gras nie. Alles word netjies onderhou. Deur die swartmense. Vir die witmense. Die een se nood is die ander se brood. So is die balans en die orde verseker. En vir veiligheid is daar sekuriteitskameras, en prieële van doringdraad, en goed opgeleide honde.
Elkeen probeer om ‘n krummel van die weelde op te pik, ook die bedelaars. Die jaarlikse teaterfees bring vir al wat siel is iets ekstra in, maar as die besoekers vertrek, val die stadjie terug in ‘n diep slaap. In Grahamstad is geen toekoms nie.
Yl van te min slaap, is die eerste indrukke prentjies op my oog se netvlies soos fotos wat uit fokus uit is. Ag, wat doen ek, ek weet mos al klaar waaroor my citybook sal gaan. Ek het ‘n perfekte plan in my kop en ‘n komper in my koffer, ook ‘n kamera, ink, gom, ‘n potlood en nuwe kleurpotlode, ‘n scanner -want jy weet nooit nie - en tien nuwe Moleskine sketsboekies. Dit sal nie net in ‘n sommer-so skrywery ontaard nie. Dit moet belangrik wees, wat ek hier gaan doen. Ek kon lank nadink tydens die veels te lank vlug. Ek het selfs ‘n storie sinopsis uitgewerk en ‘n werksplan opgestel. My citybook sal uniek wees in die reeks. Beeld en teks sal saam in een verhaal. Wat ek nie met die woorde te sê kry nie, sal ek teken, en andersom. Miskien kan dit selfs op die volgende teaterfees uitgebeeld word aan die mense van Grahamstad, in ‘n performance, byvoorbeeld. Woord en beeld sal dan musikaal ondersteun word deur die getjirp van krieke. My storie moet langer leef as één seisoen.
Ek het selfs al ‘n titel. Die moeders van Grahamstad. ‘n Universele tema, want elkeen het tog ‘n ma. Oor die sekondêre titels – meer as een natuurlik – twyfel ek nog. Op die vliegtuig het ek tien vrae uitgedink oor ma’s. Ek sal ook fotos neem, en dié met wie ek onderhoude voer sal self hulle ma’s moet teken. Daarom het ek die pragtige kleurpotlode gekoop. Net terwille van die potlode self sal hulle nie kan nee sê nie. Sjoe, watter wonderlike kleurpotlode, twee verskillende kleure per potlood.
My plan loop inderdaad vanself vooruit. Die mense kom soos vlieë op my kamera af, want met ‘n kamera in die hand reis jy deur die hele land. Party staan en poseer vir die foto, party begin optree vir die kamera en elke keer wil hulle hul portrette sien. ‘n Man wat besig is om ‘n toebroodjie te eet, vra of ek hom met sy toebroodjie sal afneem. Soos ‘n Napoleon wat so pas ’n oorwinning behaal het, trek hy sy rug orent en kyk trots in die lens. Dis my oomblik om toe te slaan.
‘Tell me something about your mother,’ vra ek op my beste Engels.
‘She died.’ Die man kyk aandagtig na sy toebroodjie asof hy nie meer so seker is oor wat hy met sy mond aan die doen is nie.
Al het ek my vir die soort antwoord voorberei, het ek nie juis aandag bestee aan how to handle this nie. Bovendien kan ek nie nou huil nie.
‘O,’ sê ek, en ‘uhm,’ en ek gaan aan na die volgende vraag.
‘Hoe het jou ma gelyk?’
‘Oh, she looked so beautiful, sooo beautiful.’ Sy gesig verhelder. Sy oë glinster en hy glimlag sodat te veel tande wys.
Ek is gered.
Hy neem nog ‘n hap en vertel smaaklik van sy oorlede ma.
‘Her name was Emily, and she was very shy.’ Ma en seun het mekaar in geen twintig jaar gesien nie, en ‘wehen we met again, we both cried all the time. I cried and she cried and I cried. Parents should stay with their children.’
Baie dankie, sê ek, en ek vra hom om sy ma te teken.
Hy neem dit ter harte, net soos elkeen wat ek daardie dag sou vra vir ‘n skets. Die gesprekke is emosioneel, maar as ek vra of hulle ooit skaam was vir hul ma’s, is hulle verontwaardig.
‘Oh no, she was perfect.’
Niks behalwe goeie woorde oor die dooies, want uit die vyf mense met wie ek praat, het net nog een ‘n lewendige ma. Maar omdat dié ma meer as ‘n duisend kilometers ver woon is hierdie storie ook goed vir ‘n sakdoek vol trane.
Oral waar ek gaan, trek my semi-professionele kamera nuuskierigheid aan soos ‘n pot heuning die bye. As gevolg daarvan het ek op die eerste dag al soveel materiaal versamel dat ek myself die aand tevrede gelukwens op my voorbereiding. Dit was ‘n goeie plan.
In die nag begin dit te rëen. ‘n Geluksteken volgens kenners, want rëen spoel die lug skoon. Die aande sal minder bytend en suur wees. Maar die volgende oggend is dit nog steeds grys. Ek hou by my rigiede plan, en daarom pak ek my kamera, my sketsboek en myself waterwerend in, en trek die straat op, ondanks die swaar rëenbuie. My kop is onherkenbaar verskuil onder die kap van my dik winterjas.
‘Hey mam,’ roep ‘n stem.
Het ek dit reg gehoor? Mam?
Ek draai om en soek klein seuntjies. Gister het hulle so met my gepraat. Kêreltjies met wit geverfde bakkies wat orals oor die stad hulle eie opvoerings hou as ‘n spin-off van die offisiële teaterfees wat in hierdie tydperk plaasvind. Maar ek sien geen seuntjies nie. So bots ek teen haar vas. Teen die meisie van gister, die meisie met die geheim, die eerste meisie wat my van haar ma vertel het. Net soos gister, stap sy op my af. Sy gee my ‘n drukkie. Het sy my ‘mam’ genoem, in die sin van ‘madam’? Of bedoel sy mam as kort vir mama, net soos mom kort is vir mother.
Later daardie dag sou ek uitvind dat mam meesal madam beteken, selfs al noem baie mense my ook ‘mama’. Of mamie. Beide van die name laat my hart ruk asof ‘n skoot afgegaan het. Maar ‘n moedershart word gou gepaai, en dit besef mens maar al te goed hier.
‘Hallo sissie, it’s you,’ sê ek, how are you today?
‘No good business,’ sy haal haar skouers op, ‘rainy day’.
Die meisie slof verder langs my. Op elke vinger dra sy ‘n sakkie soet lemoene. Haar way of surviving. Ons praat oor die weer. Sy laat my net soos die vorige dag haar stukkende skoene sien. Ek het nuwe skoene nodig, sê sy.
Die vorige dag het ek haar al sewentig rand gegee omdat sy so lank met my gepraat het, en sy dus geen besigheid gedurende daardie tyd kon doen nie. Sy sê dat sy die geld opsy gesit het vir die school fee.
As ek haar vra wat ‘school fee’ beteken, knik sy.
So daar het jy dit. Maar wat is dit?
‘I need money for shoes. Very uncomfortable.’
Sy draai die sool van haar skoen skuins op. Haar pienk voetsool krul skaam daar, soos ‘n slak in haar dop.
‘Bon,’ sê ek, shoes, ‘alors en let’s go.’ Ek praat asof die hele Afrika-wêreld Frans verstaan.
‘Wys my waar ons skoene kan vind.’
‘Yes,’ sê sy.
‘I want high heel shoes,’ sê sy ook nog, en wys na my stewels.
Sy weet perfek hoe om hierdie speletjie te speel. Ek oorweeg selfs om my stewels op die plek uit te trek – op die oog af het ons dieselfde skoenmaat – om hulle met ‘n buiging en ‘n groot hart te oorhanding. My drang om goed te doen syfer deur al my porieë. Maar ‘n Wes-Vlaamse nugterheid – ander mense noem dit gierigheid - draai net betyds my sendeling drang die nek om.
‘Goed,’ sê ek, ‘high heels dus, want you really need them for your job.’ Ons loop elke algemene handelaar binne, want daar is blykbaar geen gespesialiseerde skoenwinkels in Grahamstad te vinde nie. Maar selfs in die klerewinkels is die beskikbare skoene minimaal en alles ruik na plastiek en nylon en Made in China. Agter in die winkel is ‘n rak vol stewels. Kinky stewels ingesluit. Skielik begryp ek waarom elegante swart vroue so dikwels op ongemaklike hoëhak skoene rondswier. Wie met hoëhakke pronk het geld of ‘n job. Al dra sommige van hulle net die hakke om hul kos te verdien. Maar nie my lemoenmeisie nie.
Helaas, hier is maar bitter min keuse. Dis óf sandale óf tekkies, of dan maar tog hoëhakke of pumps. En almal Made in China. Kwaliteit: Nul. Miskien vind ons iets over there. Ek wys na die kinderafdeling en probeer om dit mooi vir haar uiteen te sit dat dit beter is om vir plat hakke in die kinderafdeling te soek.
‘No, no kids shoes.’Sy skud beledig haar kop. Sy weet wat sy wil hê.
Ons loop winkel in en winkel uit. Vyf winkels in totaal. Ons loop deur die mark. Ons soek vir ‘n skoenstalletjie, maar dié is vandag nie hier nie. So gaan dit van erg na slegter, wat skoenontwerp én kwaliteit betref. Dié noem hulle dus skoene, dink ek, terwyl ek die berge van voorafgevormde plastiek optel. Terwyl hulle hier soveel beeste het om te stroop. Die poor people sou veral ‘n leersool kon gebruik, want met die afstande wat hulle per dag aflê – van hul townships tot in die stad en weer terug – sal ‘n staptellertjie in overdrive sit.
‘Nothing in here,’ sê ek, ‘no good shoes.’ Ek soek kwaliteit. Omdat sy in my geselskap is, mag hierdie meisie vandag selfs winkels binnetree waarbo daar in duidelike letters geskrywe staan: Right of admission reserved. Selfs in die beter winkels kom al die skoene nog steeds uit China, nogtans is die pryse aansienlik hoër. Ek dag twee honderd rand sou genoeg wees, maar intussen sit ons nou al bo seshonderd en vyftig rand. Ek maak gou sommetjies en besef dat liefdadigheid een ding is, maar dat ses en vyftig Euro darem tog te veel is vir ‘n Feel Good aksie. Dis maar nog my tweede dag, ek het nog veertien om te gaan. Ek sê dat ek dink hierdie stewels is te duur, sy knik verleë en ons loop verder. Skielik neem sy my arm in hare. Ek druk haar teen my vas, my hart swel van voldoening. Ons lyk soos ma en dogter gesellig aan die inkopies doen. Terwyl ek shopping haat. Ek streel haar oor die wang en sien haar misvormde oor. Daarvan het sy my die eerste dag vertel. Dis haar geheim. Arme kind.
‘Wat dink jy van dié,’ vra ek. ‘Of dié?’ Ek wys haar skoene wat binne ‘n redelike prys val. Sy kies die goedkoopste paar uit, dit kos nie meer as sestig rand nie, dus sê ek dat sy tog maar dié moet kies wat sy die mooiste vind.
‘You have to wear them, not I.’ Ek hoor myself praat soos met my eie dogters.
‘Dié paar,’ sê sy.
Dit lyk nes die stewels wat ek aan het, dis net ‘n goedkoper weergawe. Ek hou my lyf kenner en bekyk aandagtig die wat sy gekies het. Die sool, die binnekant, die hak. Dis inderdaad beter kwaliteit. Sy knik verstrooid. Ag kwaliteit, dit sal tog vir haar deug, hulle is nuut, hulle is blink, dus is hulle tog sekerlik kwaliteit. Ek sê dat sy hulle moet aanpas. Sy trek die vodde van haar voete af, is dit bruin sykouse daaronder?
‘Jy het sokkies nodig,’ sê ek, ‘katoen sokkies, nie nylon nie. Katoen is beter om swetende voete te vermy.’ Maar dan sien ek wat ek vir sykouse aangeneem het, eintlik haar eie blote vel was. Die stewels pas haar perfek, sê sy. Daarvan is ek nie so seker nie, dus druk ek op die top van die skoen. Daar is dadelik ‘n duik in die neus wat die res van die dag daar sal bly. Maar sy wil hulle om een of ander rede net in ‘n ses hê. Twee mate te groot. Ek koop vir haar katoen sokkies sodat dit die leegte in haar skoene bietjie vul. Ons loop na die kassier.
Die vrou agter die kassier is agterdogtig en wil weet wat ons verhouding is.
‘Geen,’ sê ek.
‘Werk hierdie meisie miskien vir u?’ Is dit ‘n beskuldiging, ‘n waarskuwing of‘n teregwysing?
‘Nee,’ antwoord ek.
‘O,’ sê sy, en sy lyk ‘n bietjie onkant gevang, ‘she should be so lucky.’
Helaas so lucky is sy nie want ek het dié dag min geld op my en die betaalkaart werk nie. Ek sou die stewels kon terugsit en later terugkom, maar die meisie het hulle al klaar aangetrek. Haar ou tekkies hang suutjies in ‘n plastieksakkie in haar hand. Terwyl sy in die winkel op my wag, maak ek treë deur dik druppels, terug na my kamer vir die geld.
Oppad sien ek die ander verkopertjies van haar groepie. Hulle glimlag vir my, in die hoop dat hulle die volgende dag die lucky ones sou kon wees. Sal hulle jaloers wees wanneer hulle die nuwe stewels sien? Miskien sal hulle dit wil steel. Terwyl die een haar bene vashou, sal die ander die nuwe stewels van haar voete afruk. Ek stel my voor ‘n dramatiese toneel met heelwat geskreeu en geskoppery. Netnou sal ek die meisie vra om mooi vir haar nuwe goed te sorg,en miskien selfs haar nuwe stewels elke dag te poets. Dan hou hulle langer. Swartmense is tog so goed daarmee. Ek besluit ook dat sy nou eers vir ‘n beter werk moet soek, iets van ‘n hoër stasie en met meer sekerheid van ‘n inkomste en ‘n beter lewe.
As ek uiteindelik terug in die winkel inkom, sit sy nog steeds op die bankie met haar nuwe stewels aan. Met ‘n breë glimlag kom sy my tegemoet geloop. Sy stap ‘n bietjie ongemaklik met die skoene wat twee mate te groot is. Omdat sy nogal klein en bekrompe is, lyk sy soos ‘n pikkewyn. Die duik in die neus van haar linkerstewel grinnik vir my. Maar dit pla haar nie.
‘Did you put your socks on?’ vra ek. Sy wys my die onoopgemaakte duopack wat ek gekoop het.
‘Kom, trek hulle aan, dan is dit warmer in die koue.’
Sy knik en gee die ander paar vir my.
‘Nee,’ sé ek, ‘albei is vir jou.’ Byna wil ek vir haar begin vertel dat jy alom die ander dag vars sokkies moet aantrek, want die boots is so synthetic. Your feet will stink after one day. Maar ek sluk my woorde in. Die lyn tussen weldadigheid en ‘n galsterige paternalisme is maar dun. Ek betaal en loop na buite.
‘These boots are made for walking,’ lag ek. Maar ek hou die gedagte terug. Sy knik tevrede en kyk traak-my-nie-agtig voor haar uit. As hulle in Grahamstad selfs nie weet wie Alice in Wonderland is nie, hoe sou hulle my musikale one-liners kon waardeer.
‘Wat gaan jy nou doen?’ vra sy.
‘Ek moet werk, antwoord ek, ek moet geld verdien, you know.’ Woepa, daar kom die katolieke afrekening meteens aangewaai.
‘Ek is honger, sê sy, ek het die hele dag nog niks geëet nie.’
Luister, sê ek, jy moet nou maar uitkyk vir ‘n beter werk. Noudat jy sulke mooi stewels aanhet, kan jy orals binnestap op soek na werk. Soek na iets wat meer sekerheid bied, skoonmaak of karre oppas, of sitplek aanwyser by die tydens die fees. Sy beloof my dat sy haar bes sal doen.
‘Wat is jou naam?’ vra sy.
Ek sê iets wat sy dalk nie verstaan nie.
‘En joune?’
‘Dit het ek tog gister vir jou vertel, dit staan in jou boek geskryf.’
Ek lag verleë.
‘Het jy nie vir my werk nie?’
Ek vertel haar dat ek in Europa woon, in België, en dat ek twee dogters het wat baie expensive is.
‘Ek wil ook eendag na België toe kom,’ sê sy.
‘Not so good there, too cold.’
‘Jy het ‘n mooi jas aan.’
Goedkoper as jou stewels, dink ek, ek het dit laaswinter op uitverkoping gekoop.
‘Ek het ook so ‘n ene nodig.’
Skielik voel ek baie ongemaklik in my dik winterjas. Asof sy meer reg daarop het as ek. Is sy nou slim of slu?
‘Kom,’ sê ek, ‘ek moet gaan.’ Ons spreek af dat sy my later in die dag sal saamneem na die township. Om vyfuur. Ons sal daarheen ry saam met al die skoonmaakvroue. Dis sewe rand per persoon en ek gaan betaal.
Dis middag en ek skeur my terug na my hotel, om ‘n kleinigheidjie te eet. Deur die vensterrame gons die voetbal histerie. Dié jaar is Afrika die gasheervir die Worldcup en selfs in hierdie stil uithoek zoem die vuvuzelas soos bye om ‘n vlinderbos. As iemand ‘n goal skop juig iedereen. Die mense in die kafees volg die spel op die televisieskerms, maar ook die mense op straat. Selfs die bedelaars roep uitgelate saam. In die eetsaal van my hotel het die ondersteuners rondom ‘n skermpie versamel. Dit lyk asof ‘n regisseur hulle bewegings gekoordineer het. Ek beloer hulle belaglike gebare. Deur die venster sien ek die meisie. Sy loop heen en weer tussen die geparkeerde motors. Die sakkie lemoene swaai soos swaar emmers waters aan haar vingers. Sy wyk nie van die voordeur nie. Ek kry ‘n benoude gevoel.
Om vyfuur staan sy en wag vir my aan die anderkant van die straat.
Sy het my vinniger gesien as wat ek haar het. Ek waai en stap oor na haar toe. Sy is nat en haar neus drup.
‘You had a nice day?’ vra ek.
‘I have a problem,’ sê sy, ‘come with me.’
Ons loop na Rhodes Universiteit se grasperk. Die gras is natterig, ons soek na ‘n boomstomp om op te sit. Ek let op dat sy die rok wat sy vanoggend aangehad het, verruil het vir ‘n jeansbroek. Het sy dit soms onder haar rok aan? Of het sy vinnig huis toe gegaan om iets anders aan te trek? Het sy dalk nog ‘n sponsor? Ons sit op ‘n verdroogte stuk stomp, albei in swart jasse, albei in jeans en albei met ons swart stewels aan. Dieselfde sjaaltjie om ons nekke, gratis gekry op die teaterfees. Hare is ‘n bietjie verniel want ek het die logo probeer afknip en daar het iets foutgeloop met die skêr. Dit traak haar nie, sy dra haar sjaal met styl, die fraaings netjies voor, die verminkde stuk aan die agterkant.
‘Kom,’ sê ek, ‘tell me the problem.’
‘I cannot go back now, they want money for the rent and will kick me out if I don’t pay today.’
‘How much?’
‘150 rand.’
15 Euro dus. Ek voel die geld gloei in my rugsak.
‘Waarom wil hulle dit vandag hê, vra ek, kan hulle nie wag nie?’
‘Hulle wil dit nou hê, anders sal hulle haar nie binne toelaat nie. Haar oë smeek. Sy vee haar neus af aan haar mou. Het sy dit geoefen of is sy opreg?
‘Ek weet nie waar ek nou moet slaap nie,’ sê sy.
Enige plek, dink ek, maar nie in my kamer nie. Ek betrap my in my ongeduldigheid.
‘Ek het geld nodig,’ sê sy weer.
Ek vra haar wat van die sewentig rand van gister geword het.
‘I told you this morning, that’s for schoolfee.’ Sy word kwaad.
Aha, gaan ons dit nou so speel, dink ek. Goed dan. Ek word ook kwaad.
‘Maar daar is nou g‘n skool nie, sê ek. It’s holiday.’ Ek voel gekul want ek wou vandag vir my storie township toe gaan.
‘You have money?’
Ek probeer aan haar verduidelik dat sy die sewentig rand kan gebruik vir haar huur , plus die twintig rand wat sy reeds het. Sy loer na my jas sak waar ek vroeër twintig rand vir die taxi ingesit het. Het sy dit miskien sien blink? Straatmense sien meer as ons.
‘Het jy niks in jou sak nie,’ vra sy dwingend, sy loer aandagtig na my jas. Ek verduidelik aan haar – indien ek dit vroeër geweet het, ek miskien geen stewels vir haar sou gekoop het nie, sodat sy ten minste geld vir haar huur sou kon hê. Sy knik. Begryp sy wat ek bedoel?
‘My geld vir vandag is op,’ sê ek. ‘En ek kan nou niks meer uit die muur uit haal nie.’ Sy bekyk my asof ek ‘n towerkrag het. Geld uit die muur?
‘Listen,’ sê ek streng, ‘ek het net niks meer geld nie.’
Dit verstaan sy beter.
‘Waar moet ek dan slaap, I have to pay now.’ Sy pers ‘n traan uit haar oë.
‘Probeer ‘n vriendin...’
‘Nee,’ sê sy, ‘no money, ek sal buite moet slaap, dit sal koud wees en gevaarlik. Miskien word ek selfs verkrag.’ Dis so pas vyf uur in die namiddag maar die sonsondergang blaas ‘n gure windtjie deur Grahamstad.
‘Give me some money for food, sê sy, I am so hungry.’ Skielik vind ek myself hongerig. Dit is halfses. Wat ek vanoggend vir ontbyt geëet het is al lankal vergete en verteer. Asof sy my gedagtes kan raai, sê sy dat sy vanoggend heeltemal niks geëet het nie, en die hele dag ook niks. En gister ook niks. En nou ook niks. Ek gee haar die sewe rand vir die taxi, dan kan sy ten minste huis toe gaan of ërens na toe waar haar bed staan. Of haar matjie lê.
‘I need money for food, to buy milk and bread, please. I am so hungry.’
Dit word vir my net te veel en ek sê dat ek regtig geen geld het nie en dat daar nou geen meer sin in is om township toe te gaan nie. Dis so goed soos donker, die weer het suur geword. Wat sal my nou daarbo inwag. Maar die belofte – om my vandag soontoe te vat – is blykbaar al lankal vergete. Ek staan op en loop weg. Ek kyk nie of sy my volg nie. Effens later duik sy op tussen die geparkeerde motors met nog steeds aan elke vinger ‘n sakkie lemoene.
‘I’m so hungry,’ hoor ek haar mompel. ‘I didn’t sell anything. Buy me an orange.’ Ek stop haar tien rand in die hand. In my kamer lê daar al klaar drie sakkies lemoene.
Daardie nag raak ek moeilik aan die slaap.
Wat as dit tog alles waar is wat sy my vertel het?
Wanneer ek die volgende oggend op straat kom, loop sy skielik langs my. Sy sê dat sy met my na die township sal gaan, môre om nege uur. Sy het ‘n free house gevind, sy sal haar goed verhuis, maar sy het nog lakens nodig. En daarby moet sy nog die res van die huur bymekaar kry.
‘Maar as jy ‘n free house het, dan hoef jy tog nie meer huur te betaal nie,’ sê ek skerp. Dit ontaard in ‘n ongemaklike gesprek.
‘Help me, I need money.’
‘Luister,’ sê ek, ‘as ek vandag vir jou tagtig rand gee, vra jy my môre weer vir iets anders en die volgende dag weer.’
‘Ek sal vir jou blomme koop,’ sê sy.
‘Ek wil nie blomme hê nie, hou maar liewer die geld, sê ek.’
Ons maak ‘n ooreenkoms. Ek gee haar tagtig rand, wat sy by die sewentig kan voeg vir die schoolfee, alles saam dus ‘n honderd en vyftig rand vir die huur en volgende week sal ek haar weer sewentig rand gee vir die schoolfee. Dit lyk asof sy dit nie verstaan nie, dus begin ek van voor af. Sy knik. Ek gee haar die geld en ook ‘n halwe roosterkoek, ‘n rol koekies en ‘n stuk kaas. Sy beloof om my die volgende oggend om nege uur saam te vat townhip toe, waar sy my aan haar vriendinne sal voorstel. Ek sal met hulle kan gesels en dan sal ons saam na die stad toe terugkom. Sy belowe dat sy my vir niks meer sal vra nie. OK, sê ek, en ek loop verder.
Die volgende oggend is sy nêrens nie. Nie om 9 uur as ek my kop buite toe steek nie, nie om nege dertig as ek na die koerantwinkel toe loop nie, nie om tien uur as ek terugkom van die winkel nie, en ook nie om tien dertig nie. Ek besluit om die dag sonder haar te begin en gaan na die museum. Skielik sien ek haar. Op die trappe van die museum. Sy het my dié keer vir eens nie eerste gesien nie. Ek draai my kop weg en gaan die teenoorgestelde rigting in.
‘Mam, mam,’ hoor ek iemand roep. ‘n Klein seuntjie met ‘n witgeverfde gesiggie staan voor my.
‘Ek het niks,’ sê ek nors.
‘That lady wants to talk to you.’
‘Nie nou nie,’ sê ek, ‘ek het werk om te doen.’
Sy was toe tóg vinnig op my spoor. Ek loop na die supermark, en dink dat daar tog geen sin in hierdie strategiese speletjie is nie. Na tien minute loop ek die winkel uit met twee vol kruidenierssakke. Ek speur in die straat af of ek die rooi mus sien wat sy elke dag aanhet. Sy strompel tussen die geparkeerde karre voor my hotel. Presies nes ‘n pikkewyn met ‘n lang swart jas en veels te groot stewels. Ek slaan ‘n systraat in en loop om die blok. Sy weet nie dat my hotel ook ‘n nag ingang het nie. In ‘n ander straat. So ontwyk ek haar die res van die dag.
Ek verbeel my hoe sy ure lank vol verwagting vir my op straat staan en wag. Sou sy wonder of ek omgekrap is? Vandag is daar in elk geval geen punt daarin om haar te sien nie. Môre miskien. Daardie nag neem ek ‘n besluit. Ek sal môre alleen township toe gaan. Daar is ‘n optog met reuse fabelagtige marionette. Dus is dit redelik veilig om alleen soontoe te gaan. Ek het haar nie nodig nie. Dis net ‘n halfuur se stap.
Ek loop die middestad uit en gaan oor ‘n yster voetgangersbrug. Dis waar die swart kant van die stad begin. Dis bloedig warm daardie dag, maar ek hou my dik jas aan en my spul goed is weggesteek in my rugsak. Oppad kom ‘n donkie na my aangeloop. Dieselfde een wat ek vroëer die week, om middernag, in die stegie op die markplein sien stap het. Die strate is verlate en agter die gordyne voel ek oë loer. Geleidelik word die strate nouer en die huise kleiner, tot daar slegs paadjies oorbly besaai met sinkplaat mure.
Die optog kom byeen op ‘n oop stuk veld. Net langs ‘n rommelshoop waarop bokke rondskarrel. Almal is ‘n goeie bui. Ou vroue dans met babas op hul arms. Kinders wil fotos hê. Ou mans soek geld. ‘n Man met ‘n vertraagde babatjie op sy arm vra of ek sy kindjie wil teken, hy het gesien hoe ek af en toe in my Moleskine boekies skets. Ek is senuweeagtig. Wat as hy dink dis lelik. Maar hy is in die wolke. Dus skeur ek die bladsy uit my boek, teken my naam en die van die kind daaronder. Met die tekening in die hand stap hy in die rigting van die prefabs. Hy probeer dit uit die baba se kloue te hou, maar sy hou aan gryp tot sy dit beet het. Sonder dat hy dit opmerk, verfrommel Lulu die tekening in haar mond.
So dis hier waar my lemoenmeisie woon. Ek dink aan die ellendige verhaal wat sy my vertel het. Hoe haar ma lank terug oorlede is. In ‘n huisbrand. Die vuur is deur haar pa gestook. Die mure van die huis vol paraffien gestrooi en aan die vlam gesit. Haar ma was aan die slaap. Hoe sy vir jare deur haar pa misbruik was, uiteindelik swanger geword het en toe ‘n doodgebore bondeltjie in die wêreld ingebring het. Hoe haar ma haar oor met ‘n mes bewerk het toe sy haar vertel hoe haar pa haar misbruik het. Hoe sy vandat sy tien jaar oud is by a friend woon. Hoe sy vir weeskinders wil sorg, omdat sy self een is. Hoe sy skool wil klaarmaak. Ek probeer raai waar sy woon. Watter een van die krotte kan haar nuwe huis wees. In elke windrigting is die heuwels besaai met sinkplaat huise. Hoe hoër, hoe ellendiger. Honderd en tagtig duisend, sommige sê vyf honderd duisend honger maë probeer hier oorleef.
Maar vandag is die mense uitgelate. Daar is musiek, daar is ‘n fees, deur hulle township trek ‘n optog van vyf en twintig reuse met slingerende arms en lywe. Hul vrolike koppe steek bo die huise uit. Agter stap dansende manne, vroue, kinders en selfs honde. Die son byt my rug. Ek waai ‘n brommer uit my oog weg. As ek verskeie ure later die tuin van die universiteit inloop, hoor ek iemand roep.
‘Hey mam!’ Daar sit sy, in haar ligblou trui, sonder lemoene en sonder mus. Sy het ‘n kort kop swart hare. Daar is korste bloed op haar kop. Haar stewels is vuil en is grys van die stof.
Sy lag.
‘Take a seat,’ sê sy.
Ek gaan sit.
‘Hello sissi sê ek. There you are again.’
Ons kyk sweigend na ‘n straatkunstenaar wat uit ‘n boom hang. En ons lag. Ook vir mekaar.
Translated by Alette Schoon
Alette Schoon lectures in television and new media at Rhodes University in Grahamstown. Her own documentary films have been shown at film festivals across the world. Her film about a disabled teenage dancer, Makhotso Wild on Wheels, won Audience Best Film Award at the Perspectiva Film Festival in Moscow. Alette was born in Cape Town in 1967. She has a degree in Mathematics and an Honours in Journalism, and has studied film and television in Pretoria and Paris. Before working in television she spent some time on the Cape Flats teaching anti-apartheid activists how to produce media. Alette is currently researching the relationship between mobile phones, race and class among young people in Grahamstown.
Podcast voorgelees deur Alette Schoon





