citybooks

Oorblyfsels

Ingrid Winterbach

1.
Dit is aan Saartjie Baartman wat ek dink wanneer ek in die Oos-Kaap aankom. Saartjie, uitgestal op ‘n voetstuk van een tot vyf in die middag in Piccadilly Circus, ‘n dawerende sukses, die eerste spesimen van die oewers van die Gamtoosrivier. Haar oorskot lê begrawe in die Gamtoosvallei, ten ooste van Port Elizabeth. Grahamstad, waarheen ek op pad is, lê noordwes van Port Elizabeth, in die Oos-Kaap, tussen die Gamtoos- en die Groot Visrivier. Aan Saartjie dink ek terwyl ek van Port Elizabeth na Grahamstad ry. Aan haar en aan die selekant.
In die motor vertel Carl my van die twee duisend jaar oue liggaam van ‘n Boesmanman wat deur ‘n argeoloog, verbonde aan die Albany Museum, ontdek is. Die liggaam is gepreserveer deurdat dit in die blare van ‘n giftige plant toegedraai is, wat insekte daarvan weggehou het. Carl is ‘n kenner van plante, en hy wys hierdie plant vir my langs die pad uit. Ek wil baie graag die liggaam sien, sê ek. Toe ek Anton later daarna uitvra, vertel hy hoe kléin die liggaam is, en beduie met sy hande. Dit het wonderlik bewaar gebly, selfs die vingerafdrukke is nog sigbaar, sê hy.
Saartjie Baartman se graf, die goed-bewaarde liggaam van die Boesmanman, die selekant, die steengroef – dit is die punte waarvolgens ek my aanvanklik oriënteer ten opsigte van Grahamstad.
Die Oos-Kaap is ‘n droë streek. Ek woon in Durban, ‘n hawestad in ‘n sub-tropiese streek, in die provinsie KwaZulu-Natal. Die lug daar is ‘n dik sop. Die oorwegende kleur is groen.

2.
Ek het Johan Binneman indertyd in Stellenbosch leer ken. Hy was toe verbonde aan die Departement Argeologie daar. Nou is hy werksaam by die natuurhistoriese afdeling van die Albany museum. Hy is die persoon wat die opgrawing gemaak het. Hy ontvang my hartlik. Hy onthou my. Ek sou hom oral herken, maar ek voel asof ek in die meer as dertig jaar sedert ons mekaar laas gesien het onherkenbaar verander het. Hy neem my na die Argeologie werkwinkel. Die reuk van beendere is hier oorweldigend. Om bepaalde groepe nie aanstoot te gee nie is ‘n soortgelyk bewaarde liggaam wat ‘n tyd lank in die museum uitgestal is, reeds verwyder.
Agter ‘n tydelike plastiekgordyn, onder ‘n swart plastieksak, lê die liggaam. Die man lê op sy sy, sy bene hoog opgetrek, sy arms tussen sy bene. Stof is jy, dink ek. Hy is inderdaad klein. Moeilik om te glo dat dit die liggaam van ‘n volwassene is. Die mooi, ronde kopvorm en breë wangbene is kenmerkend van die San-mense. Klein oortjie, goed bewaar gebly, wys Johan. Haarklossies plek-plek sigbaar, asook kraletjies om die nek. Die mees delikate voete en tone – soos kindervoete, kindertone. Die liggaam is toegepak met die blare van die gifbolplant (Boophana disticha). Dit is die gif van hierdie plant wat allerlei insekte en larwes verhinder het om hulle eiers in die liggaam te lê. Plek-plek is die blare nog sigbaar – so dun, so soortgelyk in kleur as die vel dat dit moeilik is om tussen die twee te onderskei. As gevolg van hierdie plant en weens die droë hitte van die omgewing waarin die man begrawe is, het sy liggaam meer as twee duisend jaar lank behoue kon bly.
Johan vertel my dat daar op allerlei plekke holtes in die grond gevind is, uitgevoer met gras, waarin die gifbol aangetref is. Sommige argeoloë meen dat die San die gifbolplant op dié manier gestoor het. Ander meen dat die holtes ruimtes is wat toegang bied tot die ander wêreld, omdat die gifbolplant hallusinasies veroorsaak wanneer dit ingeneem word.
‘Hoe wonderlik,’ sê ek vir my dogter, ‘om soveel geloof te hê in ‘n ander wêreld – ‘n wêreld wat deur middel van beswyming, trance, bereik kan word. Hoe spreek dit my aan! Hoe mooi ook om soos die Boesmans die dood te sien as ‘n ander wêreld. Hoe vertroostend,’ sê ek. (The other world is leaky as a boat; Quignard).
‘Dus,’ verduidelik Johan, ‘kon die liggaam ook met gifbolblare bedek wees nie net om dit te bewaar nie, maar ook om die dooie te help om deur middel van ‘n toestand van beswyming die ander wêreld te bereik.’
Ek gaan by Brink, my oudste dogter, tuis. Terwyl ons almal een aand saam eet, sê ek dat ek die feit beween dat ek tydens my leeftyd waarskynlik nooit sal weet of daar lewe op ander planete is, en watter vorm dit aanneem nie. Anton vertel dat die ruimtetuie Pioneer 10 en 11 elk van klein metaalplaatjies voorsien is wat hulle tyd en plek van oorsprong aandui vir enige ruimtevaarders wat hierdie ruimtetuie in die verre toekoms mag teëkom. Voyager 1 en 2 is elk van ‘n meer ambisieuse boodskap voorsien – ‘n soort tydkapsule wat die verhaal van ons wêreld aan buiteruimtelikes moet oordra: ‘n 12-duim goudvergulde koperskyf wat klanke en beelde bevat wat die diversiteit van lewe op aarde dokumenteer. Dit sluit natuurlike geluide in (onder meer van wind, van donderweer, walvisse, voëls), musiek uit verskillende kulture, gesproke begroetinge in 55 tale – beginnende by Akkadies (ses duisend jaar gelede in Sumerië gepraat) en eindigende met Wu, ‘n modern Sjinese dialek. Met ‘n aanduiding van hoe die geënkodeerde beelde en oudioskywe gespeel moet word. Veertig duisend jaar voor die ruimtetuie die eerste ander planetêre stelsel bereik, het Carl Sagan gesê (in die tyd voorsitter van die NASA-komitee), en uiteraard sal hierdie skyf net deur gevorderde interstellulêre beskawings gedekodeer kan word.
Ek slaan my hande saam. Vyf biljoen jaar van die aarde se geskiedenis, alle historiese epogge, alle beskawings, alle tale, alles wat ons lewe hier op aarde kenmerk – alles saamgepers in ‘n klein kapsule en die groot, onbekende Niks ingeskiet. In die hoop dat daar iewers ‘n ontvanger sal wees wat dit kan dekodeer. Dit was ons, en so het ons lewens hier gelyk. Aangrypend, vind ek dit.
Hierdie gesprek is nie goed vir haar eksistensiële angs nie, sê Brink toe. ‘Waarom nie?’ vra ek. Om ons posisie in die heelal te sien, help haar nie, sê sy. ‘En dit is?’ vra ek. ‘Onbenullig,’ sê sy, staan op, neem haar bord en gaan kombuis toe.

3.
Die selekant is ‘n groot vis – veel, veel groter as wat ek verwag het dit sal wees. Byna vyf voet lank (ongeveer so lank soos die liggaam van die Boesmanman?) Bleekgeel hang dit uitgestal in versterkwater. Aan die een kant is die vel verwyder sodat die vis inwendig sigbaar is. Alle organe, die vel, alles is dieselfde bleekgeel kleur, terwyl die vis in sy natuurlike staat ‘n pragtige persblou is, met iriserende merke. Ek kyk na die vinpote, wat meer op rudimentêre ledemate as op vinne lyk. Die selekant is ‘n lobvinvis, maar nie van die groep lobvinvisse waaruit die vierpotiges ontwikkel het nie. By die mens en ander vierpotiges is die lobvinne aangepas om arms, bene, vlerke te vorm. Die selekant word as ‘n lewende fossiel beskou, want voor die ontdekking van die eerste lewende spesimen is aangeneem dat dit tagtig miljoen jaar gelede, in die Kryttydperk, uitgesterf het. Kyk daarna en stel jou die evolusionêre proses voor! Hoe onvoorstelbaar lank hierdie proses waartydens ‘n vin, ‘n vinpoot, omvorm word na ‘n ledemaat, waarmee die eerste amfibiërs moeisaam (stel ek my voor) op land kon beweeg.
Na twintig jaar in Durban het ek steeds moeite met die plantegroei, die klimaat, die smal lug, die humiditeit, die mot en die roes, die klammigheid wat in alles insypel. Ek hou van die Oos-Kaap omdat dit droog is. Ek hou van die kleur van die gesteentes en die plantegroei hier. Die weer is onvoorspelbaar, maar die seisoene – anders as in Durban – is duidelik onderskeibaar. Brink het ‘n klein patio voor haar tuinwoonstel. ‘n Hoë muur, geel geverf, skei dit van die straat. Twee roosbome groei hier, daar is twee potte met vygies, ‘n inheemse malva (pioniersplant) op die tuintafel. ‘n Groot klip. So ‘n tuintjie spreek my aan – klein en droog. So anders as my obseen-oorvloedige tuin in Durban. Die omringende heuwels is sigbaar vanuit verskillende punte in die dorp. Daarvan hou ek. Die oog kan ver sien. Sipresse aard hier, en aalwyne, en olyfbome, en poinsettias, en vygies, al die plante wat in Durban muf, deur swartroes geteister en deur insekte gevreet word.
Maar die drinkwater uit die dorpsdamme is toksies – vol E.coli bakterieë en swaar metale, so giftig dat dit van die visse in die Igtiologie departement doodmaak. Wanbestuur op munisipale vlak. En in die dorp word jy onteenseglik met die armoede gekonfronteer. Anders as in Durban, waar dié wat dit kan bekostig in malls uithang, en jou kanse om daar ‘n armoedige teë te kom heelwat minder is.

4.
Ek vra Anton om my een middag na die steengroef te neem. Anton is my gewese man, die vader van my oudste dogter, Brink. Die steengroef is op die rand van die dorp, verby die laaste universiteitskoshuise. Op pad soontoe stap ons verby ‘n groot bouperseel teen die heuwel – waarskynlik word nog koshuise hier gebou. Anton stap voor, ek kom agterna. Ons praat onophoudelik. Onderweg kom ons ‘n paar hopies menslike ekskrement teë. Ons bereik die steengroef via ‘n ander roete as die een wat die toeskouers in 2007 te voet moes volg vir Brett Bailey se drama-produksie gebaseer op die Orfeus-verhaal.
Nou is die omgewing verlate. Dit is doodstil. Die stemme van die werkers op die bouperseel is nie meer hoorbaar nie. ‘n Groot, gelyk area word aan weerskant omring deur die steil uitgeholde wande van die steengroef. Bo ons koppe is die groot, wye lug. ‘n Paar leë waterbottels word soms ‘n entjie deur ‘n windvlagie voortgerol. Behalwe enkele kakiebosse is daar nie veel plante nie, net fyn gruis onder ons voete. Iemand het ‘n vuurtjie hier gemaak, miskien van die werkers. Op linkerhand is die wande ‘n sagte (verruklike) okergeel; klein boompies groei op die smal rotslyste. Op regterhand, dié deel wat nog steeds aktief uitgegraaf word, is die rotswand steil, met ligter en donkerder en grys are. Anton lê die geologie van die rotsformasies vir my uit. Regs van ons lê ‘n groot klomp rotsblokke opgestapel, ek vra hom waarvoor dit gebruik word. Vir die bou van paaie, dink hy. Dassies bak in die son op sommige van hierdie klippe. ‘n Entjie verder lê daar ‘n stapel motorbande; ek wonder of dit die bande is wat tydens die Orfeus-stuk gebruik is.
Waarom hierdie ruimte my so aanspreek, weet ek nie. Ek het in 2007 tydens die Grahamstadse Fees met Brink daarna kom kyk. Die drama is opgevoer teen skemer. Die toeskouers moes in stilte hierheen stap, begelei deur ‘n kreupel dwerg wat hulle deurentyd ongeduldig gemaan het om vinniger te stap. Teen laatskemer was die wande van die steengroef skakerings van bleek oker en sandwit, duidelik afgeteken teen die verdonkerende lug. Voëls en bosduiwe het begin terugvlieg na hulle neste in die wand, en die fladderende skaduwees van vlermuise het sigbaar geword. Die maan het opgekom. Die groepie toeskouers, die gehoor, het die spelers te voet na verskillende plekke gevolg, waar verskillende taferele opgestel is. Ons het in doodste stilte beweeg, net die geluid van die gruisklippies onder ons voete hoorbaar, met die iesegrimmige, kortgebakerde dwerg as begeleier. ’n Vreemde draadkonstruksie het die hek na die Onderwêreld gevorm. Oral onderweg het brandende motorbande die pad verlig. In ’n poel water tussen rotse het ’n man halflyf in sy onderbroek gestaan. In ’n draadomheinde kamp ’n entjie daarvandaan het swart kinders woordeloos fabrieksarbeid verrig – hardloopskoene wat op skoendose uitgestal is. ’n Man is aan ’n outydse draadkatel vasgebind, so belig dat sy skaduwee enorm vergroot teen die een wand van die steengroef gegooi is. O, dit was pragtig! Euridike was een van ’n groep vroue wie se gesigte wit geverf is met klei en uitdrukkingloos soos maskers was. In die mite draai Orfeus om en sê ‘n enkele woord, en is Euridike daardeur vir ewig kwyt. Brink het heelwat voorbehoude gehad oor die stuk, maar ek het dit aangrypend gevind. Ek was bekoor deur die plek, deur die stemming, die geleidelike verdonkering, die skadus teen die hoë wande.
Na ‘n ruk stap ek en Anton terug. Ons praat steeds sonder ophou. Ons praat oor Brink se geboorte, oor haar huidige situasie. Ons praat oor die man en vrou by wie Anton ‘n kamer huur, oor wat dit vir hom beteken om saam met dié soort mense te woon, oor hoe sy interaksie met die man vir hom lig werp op die beperkings van sy verhouding met sy eie vader. Hulle albei se idee van emosionele nabyheid, sê Anton, is om jou in hulle innerlike monoloog toe te laat. Ongeag van waar j´y jou bevind.

5.
In 2003 het ek een middag na die begrafnis van Saartjie Baartman op video gekyk. Die begrafnis het twee jaar vantevore, in 2001, plaasgevind. In Parys is Saartjie se oorblyfsels in ‘n krat verpak sodat dit na Suid-Afrika teruggestuur kon word – die gips afgietsel van haar liggaam (uit respek bedek met ‘n luiperdvel sarong), haar skelet, en die gebottelde brein en genitalië, in 1815 kort na haar dood deur Cuvier tydens ‘n outopsie verwyder. Nadat hierdie oorblyfsels in Kaapstad aangekom het, is dit na ‘n kis oorgeplaas. Vir die amptelike terugverwelkomingsseremonie is die kis met die Suid-Afrikaanse vlag bedek, en deur klein meisietjies vergesel (hare vasgemaak in stywe vlegseltjies) toe dit op wielietjies die lokaal binnegestoot is, terwyl ‘n vloot-orkessie speel. Tydens hierdie geleentheid het verskillende kore gesing, verskeie groepe Griekwavroue het hartstogtlike betoë gelewer, ‘n politikus het ‘n toespraak gemaak, ‘n ou en gesiene wetenskaplike het gepraat, asook‘n Khoisanleier – uitgedos in krale, met ‘n luiperdvel karos oor sy skouers en kop gedrapeer.
‘n Geselekteerde groepie vroue het reeds tydens ‘n private seremonie die brein en genitalieë geseën en gekonsekreer voor dit met die skelet in die kis verseël is
Verskillende groepe het elk ‘n aanspraak gemaak op haar oorblyfsels, en oplaas is die Gamtoos gekies as ‘n geskikte begraafplek. Die groepe was tevrede. ‘n Groot stuk grond is afgesluit op die oewer van die Gamtoosrivier, waar die Inkwa, Gonakwa en Damakwa Hottentot-stamme in die agtiende eeu gewoon en geswerf het.
Die begrafnis was lank en uitgebreid, en is op televisie uitgesaai, soos enige staatsbegrafnis. Onder die sprekers en hooggeplaasdes was koninklike lede van die Khoisan; ministers; burgermeesters; godsdienstige, tradisionele en gemeenskapsleiers; afgevaardigdes van die National Khoi Council; verteenwoordigers van die Sarah Bartmann Reference Group; historici; digters.
Kort na sonsopkoms begin die mense reeds met busse uit die omgewing en uit ander dele van die land aankom: uit die Wes- en Noord-Kaap, die Vrystaat, Gauteng. Luidssprekers en die klankstelsel word geïnstalleer. Ietwat later begin die hooggeplaasdes en eregaste in amptelike motors en helikopters arriveer. Met hulle aankoms word onderhoude met hulle op televisie gevoer. Die groot skare rondmalende mense laat stofwolke uit die droë aarde opstyg. Die grond is okergeel, die Gamtoos vloei wyd en sloom, lae heuwels is sigbaar in die verte. Maar die lug is so helder, so ontdaan van komeet en voorbode soos op die eerste dag van die skepping.
Oplaas kan die amptelike verrigtinge begin. Op ‘n lang, smal verhoog volg die een item op die ander. Jong meisies in kort, animal print rompies doen ‘n energieke dans op ‘n kontemporêre maat. ‘n Klein groepie Khoisan kindertjies, in outydse drag, doen ‘n dansie. Ouer vroue sing en klap, die soliede vlees van hulle borste en arms skud uitbundig. Die Inkwa Mighty Angels, ‘n groep jong mans, maak uitsonderlike skuddende bewegings met hulle bolywe terwyl hulle dans. Een van hulle blaas op ‘n koedoehoring – ‘n droefgeestige geluid – van die ander speel op gorras wat sag en harmonieus tril; die tromspelers werk hulle op tot ‘n koorsagtige hoogtepunt. Die verhoog dra nog nouliks die gewig van die dansers. Die skare raak meegevoer; hulle juig en waai hulle vlaggies; die persfotograwe druk vorentoe om ‘n beter hoek te kry.
Dan volg die reekse huldeblyke en toesprake. Vroulike Khoisan-hoofde praat, afgevaardigdes van allerlei komitees praat, politici en historici praat. Die skare se geesdrif begin afneem, hulle raak meer en meer kriewelrig. Dit raak geleidelik warmer, die son brand genadeloos op almal se koppe neer. Op ‘n afstand staan die kis met die nasionale vlag daaroor gedrapeer, bewaak deur vier mans in uniform; af en toe lig die windjie die vlag effens.
Saartjie word aangespreek as ‘ons ouma, ons ancient mammie van die Inkwa-stam, ‘n afstammeling van die eerste nasie.’ ‘Mamma Sarah,’ word gesê, ‘jy is ‘n internasionale ikoon, ‘n simbool van onse erfenis. Mamma Sarah, onse ouma, jy het huis toe gekom en roep na ons, die Khoisan nasie. Jou gebeente is nou mét ons.’ Die wind huil saggies deur die luidsprekers. Die president spreek die nasie toe, almal wat vandag hier voor hom saamgeskaar is, en al diegene tuis, voor die televisie. Sarah het getriomfeer oor bose magte, sy is ‘n oorwinning vir die demokrasie, ‘n kragtige impuls vir nasiebou, sê hy. Die skare se aandag dwaal steeds meer af. Jong meisies vleg mekaar se hare. Babas en oumas slaap in die skraal skadu van sambrele.
‘n Klein vrouekoortjie kom aan die beurt. ‘Joy and gladness,’ sing hulle, ‘the voice of me-lo-dy, the voice in the wil-der-ness.’ Verskeie predikante kom aan die beurt. Die hoofprediker dra ‘n donker bril en ‘n vel manteltjie oor sy manel. Sy teksvers is Genesis 4:10 – Abel se stem wat uitroep nadat Kain hom vermoor het. Hierdie man is bedrewe in die retoriek. Hy bou sy betoog stelselmatig op. Hy hoor die stem van Sarah Baartman uitroep. Hy hoor die stem van Sarah Baartman uitroep na die babas, die kinders, die dogters, die moeders, die grootmoeders. Hy hoor die stem van Sarah Baartman uitroep na die mishandeldes, die verontregtes, die verguisdes. Dit word steeds warmer. Die oker grond agter die prediker word ‘n skel gebrande siëna, ‘n gepaste agtergrond vir Mamma Sarah se hartstogtelike aansprake. Hulle weerklink oor die plat, okerkleurige aarde, oor die koppe van die passiewe, afgeleide skare, oor die barre heuwels van die Hankey-vallei. Dan volg gebede in Afrikaans en in Griekwa (sagte, eksplosiewe klikgeluide). The Voices of Hope sing, begelei op ‘n keyboard. Hulle wieg droefgeestig op maat van die musiek, geklee in swart rompe en wit T-hemde, met ‘n afbeelding van Mamma Sarah daarop.
Uiteindelik word die kis na die lykswa gedra. Mense sing en drom daarom saam. Wierook word gebrand. Die lykswa (Goodall & Williams) vertrek, te voet gevolg deur die hooggeplaasdes. Stadig beweeg die stoet na die heuweltjie, Sarah se laaste rusplek, voortaan ‘n Nasionale Erfenis-terrein. Die skare toeskouers bly agter. Kospakkies word uitgedeel. Almal lê weg aan lemoene, broodrolletjies en hoenderboudjies terwyl die laaste rituele op die heuwel uitgevoer word – gebede en inkantasies word opgesê; vroue sing skril in Sarah se moedertaal. Dit word koeler, groot wolke begin saampak. Die kis word laat sak. Die lug word ‘n donker indigo en kobalt blou, met stroke koper, oker, magenta, viridiese groen en gebrande omber. Die massiewe wolkmassa bou steeds meer dreigend op. Groot inheemse aalwyne (aloe bainesii), die bloedrooi vlamblom (Kniphofia) en klein doringboompies raak gesilhoeëtteer teen die dramaties verdonkerende lug. Op ‘n afstand is die lamentering en gekerm van vroue hoorbaar. ‘n Klein koortjie sing virlaas en hier eindig Mamma Sarah se erbarmlike reis oplaas in triomf en eerbetoon.

6.
Ek kuier tien dae lank by my twee dogters hier in Grahamstad. Ek woon repetisies by. (Noziswe dra ‘n ougoudkleurige pruik.) Ek doen inkope. Ek kook: Greek vegetable stew, bobotie, groentekerrie. Ek drink een oggend tee met Anton, my gewese man, op die dag van ons troudag vier en dertig jaar vantevore. Nou is ons albei grys en verweer, aansienlik meer gehawend as toe. Ek bak koek. Brink se oog is een oggend bloedrooi, moet stres en spanning wees. Gevoelens van ontreddering is vlak in my bewussyn, dit verg nie veel om hulle na bowe te laat kom nie. Sestig jaar se indrukke, dink ek, in my verweerde kop ingecram. Die dooie Boesmannetjie was anders as wat ek my voorgestel het sy bewaarde liggaam sou wees. Ek vermoed ek het hom meer natuurgetrou, minder getransforméér, voorgestel. Getransformeer tot stof, tot klip, nouliks meer menslik, sy vel nouliks onderskeibaar van die gifbolblare waarin hy toegedraai is. Ek koop ‘n tweedehandse eksemplaar van Waiting for Godot. ‘Al die dooie stemme,’ sê Estragon. ‘Wat sê hulle?’ vra Vladimir. ‘Hulle praat oor hulle lewens,’ sê Estragon. ‘Om te geleef het, is nie genoeg vir hulle nie,’ sê Vladimir. ‘Hulle moet daaroor praat,’ sê Estragon. ‘Om dood te wees, is nie genoeg vir hulle nie,’ sê Vladimir. Ek is ook immer in my werk besig met die dooies. Hoe dan anders? Op ‘n oggend neem Brink my na die monument om kaartjies vir die Fees te koop. Van bo op die heuwel by die monument is die steengroef sigbaar. Ek vra haar om ‘n foto daarvan te neem. Ek kyk af na die grond by my voete. Grassies en klippers. Die gras roer effens in die wind. ‘n Vertroude landskap, ‘n houer vir tallose herinneringe.
In die dorp kan ek die armes nie miskyk nie. Elkeen maak ‘n aanspraak op my. Gee vir een iets en die duisend ander bly in gebrek. Die dorpsinwoners, merk ek, het geleer om hulle blik afgewend te hou, om nie aanspreeklik te voel vir die lot van bedelende kinders op straat nie. Terwyl ek stap, kyk ek fyn na almal se gesigte, ek soek na die afstammelinge van Mamma Sarah se mense – die Inkwa, die Gonakwa en die Damakwa – die eerste mense. Ek soek na die mooi kinderlik geronde hoofde, breed oor die wangbene, wat dui op San-voorgeslagte. Ek sien die sagter skakerings van bruin van die plaaslike Xhosa-mense, die donkerder skakerings van mense uit ander dele van Afrika. Ek sien fyngeteelde Engelse gesigte, robuuste Afrikanergesigte, pioniersgesigte.
Ek hou van Grahamstad. Sou ek hier kon bly, my lewe in sub-tropiese Durban opgee? My man laat weet hy moet my goed verkoop, vir die armes uitdeel, ‘n skenking aan die Heilsleer maak? Net my skulpe kan hy aanstuur, my skulpe, skedels en klippe – al die oorblyfsels van wat eens lewend was, bewoon was, ‘n bewussyn gehad het, hoe beperk ook al. Ek kan hier ‘n laaste nuwe begin maak. My lewe aansienlik afskaal. My oog hou op die graspolle by my voete, die klippers, en dan my blik laat gaan oor die sagte okerkleurige geologiese formasies van die heuwels op ‘n afstand, en die grasvelde, waardeur die wind liggies roer, winters en somers.

 

Podcast voorgelees deur die outeur